Sy sou maklik kon sê sy is heeltemal te besig om vir enigeen ’n goeie buurvrou te wees, wat nog te sê weldade aan wildvreemdes te bewys.

Sy moet immers ’n splinternuwe onderneming op die been bring en ’n nuwe produk – meubels van herwinde plastiek gemaak – by hul stalletjie by die Decorex-Expo in Johannesburg bekend te stel. Dan moet sy ’n draai gaan maak by al hul takke dwarsdeur KwaZulu-Natal en dis net hoe haar dagboek vir hierdie week daar uitsien.

Tog maak Lesley Ann van Selm tyd om uit te reik na leerders, gevangenes en oudgevangenes as deel van ’n misdaadvoorkomingsinisiatief waarmee sy 14 jaar gelede begin het. En vir haar onbaatsugtige werk waarmee sy sedertdien talle lewens soos handomkeer verander het, is sy onlangs as die wenner van Shoprite/Checkers se Vrou van die Jaar-kompetisie in die goeie bure-kategorie aangewys. Huisgenoot was die mediaborg van die toekennings.

As uitvoerende hoof van die nie-regeringsorganisasie Khulisa Crime Prevention Initiative het sy ook ’n vergadering met die provinsiale grootkoppe van korrektiewe dienste hierdie week op haar dagboek. En dis maar net die begin, vertel Lesley (53).

“Hierdie week het 18 jong mense laat weet hulle soek werk en ’n hele paar grootkoppe wil vergader om onder meer te gesels oor ’n WNNR-navorsingsprogram. Dit gaan oor ’n projek wat ons in Hammanskraal, noord van Pretoria, begin het. Hulle wil ook gesels oor ’n entrepreneurskapsprogram wat ons saam met die departement van onderwys in vyf skole in Soweto wil implementeer.”

’n Bedrywige vrou is sy beslis. Sy staan immers aan die roer van ’n welsynsorganisasie met 260 werknemers wat by ’n magdom projekte betrokke is.

Lees meer oor Lesley in die Huisgenoot van 12 Augustus 2010

Bespreek vir Skouspel!