Met die fliek Invictus wat nou hier draai – oor die spannende dag wat so baie gedoen het om Suid-Afrika te verenig – het ons gewonder wat julle van 24 Junie 1995 onthou. En die honderde briewe wat by ons opgedaag het, spreek van heerlike herinneringe vol nasietrots en hoop vir die toekoms.

“Dit bring wonderlike memories terug,” skryf Mariette Viviers van Centurion. “Ek en die mense wat die dag saam was, kan nie ophou praat daaroor nie. Ons het reg agter die pale gesit en daai skop sien kom! Die blydskap en trots ná Joel Stransky se beroemde skop was ’n gesig wat my altyd sal bybly.

“Cowboys don’t cry was toe die hele tyd ’n mite! Rondom my het groot, sterk manne sommer aan die huil gegaan van trots en verligting. Madiba se verskyning het bygedra tot ’n koue rilling en nog ’n traan of twee.”

Vertellinge het van regoor die land ingestroom, oor Suid-Afrikaners wat in die buiteland die wedstryd moes dophou, mense wat troues moes bywoon en pare wat ouers geword het so tussen die punte deur.

Hier op kantoor het daardie dag ook heuglike herinneringe teruggebring en selfs van die ongewilligste geeste laat jubel. “Kyk, ek was nog nooit skaam daaroor nie: Ek is nie ’n rugbyspeler nie,” vertel Wicus Pretorius, assistentredakteur hier by Huisgenoot. “Ek verstaan nie die game nie. En hoe mense meegevoer raak en met die TV praat nie. Of hul vuiste bal nie. En hoe die sediges kan swets nie.

“Met die Wêreldbeker-eindstryd in 1995 was ek dus nie juis meegevoer nie. Ek het kwalik geweet wie in die span is, ek was kwalik bewus van die dag en uur van die stryd om den bloede, maar ek het darem geweet die kaptein is Francois Pienaar.

“Vir daardie Saterdag was daar in my deel van die heelal net een ding op my doenlysie: Vind ’n stoof. ’n Behoorlike, losstaande wit stoof wat die treurige tweeplaatbuksie op die rak in my kombuis moes vervang.”

Lees meer hieroor in Huisgenoot van 31 Desember.