[caption id="attachment_171316" align="aligncenter" width="600"]Annelie, Org (haar oorlede man), Zak en Martelize met Martelize se doop. Annelie, Org (haar oorlede man), Zak en Martelize met Martelize se doop.[/caption]

Sowat 26 jaar gelede was sy en haar gesin in ’n ernstige motorongeluk waarin haar borrelende, ses maande oue babaseun liggaamlik en verstandelik gestrem is.

[caption id="attachment_171312" align="aligncenter" width="600"]Zak se foto vir 'n babaskou. Zak se foto vir 'n babaskou.[/caption]

Terwyl sy elke dag haar kind met die grootste liefde versorg het, kon haar man nie na hul seun kyk sonder om skuldig te voel oor daardie ongeluk nie. Minder as 10 jaar later het hy sy lewe geneem.

[caption id="attachment_171308" align="aligncenter" width="600"]Annelie voer vir Zak. Annelie voer vir Zak.[/caption]

En nou is haar dogter (24), die ma van ’n pragtige babadogter, ook ’n uitmergelende siekte onder lede en begin sy elke dag stuk vir stuk wegkwyn.

Deur dit alles was Annelie die inspirasie vir ander mense, vertel haar broer, Willem van Vuuren, ’n prokureur van Vereeniging.

[caption id="attachment_171306" align="aligncenter" width="600"]Annelie. Annelie bly ander mense inspireer ten spyte van haar eie pyn.[/caption]

“Ek het ongelooflike ontsag vir haar. Wanneer ek moeilikheid het, bel ek haar. Wanneer ek inspirasie wil hê, bel ek haar,” vertel Willem, wat dié ongelooflike verhaal aan Huisgenoot vertel het.

“Sy glo net geweldig sterk. Wanneer sy met jou praat, sal sy vir jou sê: Vat dit dag vir dag.”

Vra ’n mens Annelie (48) hoe al die terugslae haar nie gebreek het nie, sê sy saggies: “Dit het.

“Maar jy gaan net aan; dit is al wat jy kan doen. Jy leer jou langs die pad afsny en jy gaan net aan.

“Ek dink ek is nes enige ander ma wat enigiets vir haar kinders sal doen. Jy doen wat jy moet om kop bo water te hou.”

Willem sal die datum van daardie ongeluk nooit vergeet nie: 20 Januarie 1991, die dag toe sy sussie se lewe vir altyd verander het.

Klein Zak, Annelie en haar man, Org, se eersgeborene, was skaars ses maande oud.

[caption id="attachment_171314" align="aligncenter" width="600"]Speeltyd met klein Zak. Speeltyd met klein Zak.[/caption]

Die gesin was op pad van Vereeniging na Vanderbijlpark. Naby die sogenaamde Sharpeville-kruising het Zak onbedaarlik gehuil omdat hy dors was.

“Annelie het omgedraai om Zak, wat in sy babastoeltjie was, los te maak sodat sy hom kon voed. In daardie oomblik wat sy hom losgemaak het, het ’n bestuurder by die kruising die stopstraat verontagsaam en Org het in sy motor vasgery,” vertel Willem.

“Zak het by my sussie verbygetrek, deur die vooruit, oor die Ford Cortina (waarvan die bestuurder die stopstraat verontagsaam het) en het met sy kop in die pad te lande gekom. ’n Verbygaande motoris het op die baba afgekom en hom dadelik hospitaal toe geneem.

“Ek onthou hoe Org, wat ’n paramedikus was, later by die hospitaal na Zak se pupille gekyk en gesê het hy het breinskade.”

Nadat Annelie en Zak eers na plaaslike hospitale geneem is, is hulle na die Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. Org se neus en wangbeen is gebreek.

Annelie het byna elke been in haar skedel gebreek, terwyl Zak ernstige breinskade opgedoen het. Annelie is eers ná drie maande ontslaan. Zak moes nog drie maande in die hospitaal bly.

Toe Zak huis toe gestuur word, het Annelie, wat toe net 21 jaar oud was, besluit om self na haar baba om te sien.

“Zak kon nie sien nie, hy kon nie hoor nie, niks. Hy was ’n mens maar hy was net daar en dis dit,” vertel Willem.

Nege maande ná die ongeluk, het Annelie, wat toe weer swanger geraak het, ’n miskraam gehad.

Die volgende jaar het sy en Org weer probeer, en ’n jaar later is Martelize gebore.

Annelie het haar lewe toegewy aan haar kinders. Sy het elke dag self na Zak omgesien. Wanneer sy as verpleegster by ’n nabygeleë hospitaal gewerk het, het sy ’n huishulp gehad wat Zak versorg het.

“In 2000 het Org sy eie lewe geneem deur homself te vergas,” sê Willem.

“Org het ’n brief nagelaat. Daarin het hy geskryf hy verkwalik homself vir die ongeluk en die toestand waarin sy kind gelaat is.

“Hy het nie meer kans gesien om Zak groot te maak nie. Hy kon net nie meer elke dag in Zak vaskyk nie.”

Nadat Annelie haar man begrawe het, het sy en haar kinders Krugersdorp toe getrek. As enkelouer het sy alles gedoen vir haar kinders. Sy het as verpleegster gewerk en tussendeur steeds vir Zak versorg.

Willem vertel hoewel Zak nie kon praat nie, het hy en Annelie hul eie kommunikasiestelsel gehad waardeur hy deur verskillende kreungeluide vir haar kon wys dat hy honger of dors is.

zakkombers

Een keer per jaar, op sy verjaardag, het Annelie vir Zak melktert, ’n Bar-One en ’n melkskommel gegee sodat hy kon weet dis sy spesiale dag.

[caption id="attachment_171311" align="aligncenter" width="600"]Annelie voer vir Zak op sy 21ste verjaardag. Annelie voer vir Zak op sy 21ste verjaardag.[/caption]

Met die jare het Zak verskeie operasies ondergaan om die lewe makliker te maak. Weens die skade van die breinbesering, het sy spiere en verstand nooit ontwikkel  nie.

“Al hoe Annelie kon voortbeur, is deur genade wat sy ontvang het, want sy moes dit alles self hanteer,” sê Willem.

Annelie het ’n wonderlike man ontmoet, Jay Jay Esterhuizen. Hy het Zak en Martelize soos sy eie kinders grootgemaak en is vandag nog vir Annelie ’n rots.

Omdat Zak se brein nie ontwikkel het nie, het hy in ’n stadium begin epileptiese toevalle kry. Die toevalle het mettertyd ál meer geword. Elke keer het Annelie hom dokter toe geneem.

Sowat twee maande gelede het die toevalle vererger. Ná verskeie toetse, het Annelie vir Zak huis toe geneem.

“Annelie het vir Zak gesê dis tyd om te groet en tot siens te sê, dat Zak nie meer hoef te veg om haar onthalwe nie. Sy het vir hom gesê as hy wil gaan, moet hy gaan,” vertel Willem.

“Van daardie dag af het Zak ná agteruit gegaan. Die aanvalle het net meer en meer geword.

“Die oggend van sy dood het Annelie kwart oor drie opgestaan en na hom gegaan. Sy het hom ’n soen op sy wang gegee en vir hom gesê hy het genoeg baklei. Sy het vir hom ’n bottel gaan maak. Toe sy weer by hom kom, was hy dood.”

[caption id="attachment_171309" align="aligncenter" width="600"]Dié gesinsfoto is geneem op die dag van Zak se begrafnis. Van links na regs: Angelique (Jay-Jay se dogter), Drikus (Martelize se verloofde), Martelize, Annelie, Jay-Jay, Engela en Stephanus, (Angelique se kinders) en Katrien (Martelize se dogtertjie). Dié gesinsfoto is geneem op die dag van Zak se begrafnis. Van links na regs: Angelique (Jay-Jay se dogter), Drikus (Martelize se verloofde), Martelize, Annelie, Jay-Jay, Engela en Stephanus, (Angelique se kinders) en Katrien (Martelize se dogtertjie).[/caption]

Dit was op 20 April vanjaar, presies ’n jaar nadat Annelie se pa weens ’n hartaanval dood is. En presies ’n jaar nadat sy haar pa begrawe het, het sy haar seun langs haar pa begrawe.

Midde-in dit alles het Martelize (toe 23) twee jaar gelede begin siek word. Sy het by ’n tandarts as stoelassistent gewerk, maar kon nie langer werk nie omdat die instrumente uit haar hande begin val het.

Vir Annelie was dit ’n groot skok, sê Willem.

“Dit is asof haar een kind van haar weggeneem is sodat, as dit op daardie punt kom, sy daar kon wees om haar ander kind te versorg.”

Annelie dink nie te veel na oor alles wat oor haar pad gekom het nie.

Daar was al baie moeilike dae dat sy gevoel het sy wil moed opgee en weghardloop, maar dan het sy net besef sy het ’n doel op aarde.

Dit was lang jare om na Zak om te sien.

“Ek het my in hom ingeleef. Ek het gevoel dit is hoekom ek hier is: om seker te maak hy gee nooit moed op nie.

“Toe hy dood is, was dit asof ek wou weet: 'Wat nou?'

“Maar ek weet ek het ’n doel.”

Toe Martelize se siekte gediagnoseer is, was dit vir haar ’n skok “maar jy bêre dit diep”.

“Ek het my een kind verloor in ’n ongeluk en nou kan ek my ander kind ook verloor. Dit is vir geen ouer lekker nie, maar jy gaan net aan; jy kan nie te lank wonder oor hierdie dinge nie.

“Ons is nie daar om vrae te vra nie. Wanneer dié dinge jou oorkom, moet jy dit hanteer. Vir my was al manier met die krag wat die Here my gegee het.”