Die ster van The Great Gatsby, wat al uitgegaan het met skoonhede soos Gisele Bündchen, Bar Refaeli, Blake Lively en Erin Heatherton, is glo nou ’n enkelloper. Hy sien blykbaar uit na ’n blaaskans sodat hy in die volgende paar maande ander projekte kan aanpak.

Hy oorweeg dit om nes te skop en met ’n gesin te begin. “Ek vat dit soos dit kom. Ons sal kyk wat gebeur. Ek wil nie raai wat die toekoms inhou nie,” het die 39-jarige akteur aan Extra gesê.

“Nou wil ek eers net ’n blaaskans vat. Dis nie vir altyd of onbepaald nie; net ’n paar maande sodat ek iets anders kan doen. Ek is doodtevrede. Jy betaal ’n prys vir alles, maar elke keer dat ek praat daaroor, wil ek my skop, want ek is baie bevoorreg om te kan doen wat ek doen. Ek is baie gelukkig.”

Leonardo sê hy “voel wonderlik” oor sy 40ste verjaardag in November. Die ster van Django Unchained gaan die blaaskans neem om op sy omgewingswerk te konsentreer en het al voorheen gesê hy geniet dit om iets vir die aarde te doen.

“My omgewingswerk en aktivisme bly ’n prioriteit. Ek het ’n stigting begin wat mense bewus maak van belangrike vraagstukke wat ons planeet en omgewing raak en die uitwerking wat ons op die wêreld het.

“Dit is ’n vervullende leerervaring en het my ook van die interessantste en mooiste plekke ter wêreld laat sien.”