Tom Raath (Johannesburg-kantoor)

Die gewilde grapjas Leon Schuster is nog springlewendig, het die man self vanoggend bevestig.

Die oproep van Huisgenoot is maar een in ’n lang lys van vriende en familie wat van eergister af wou seker maak Schucks is nog met ons. Dit kom nadat ’n Blackberry BBM-boodskap, wat van Saterdag af die ronde doen, beweer hy het in ’n motorongeluk omgekom.

“Ja, jong dis nou weer een of ander pampoen wat dink hy’s snaaks. Hy doen dit vir sy eie genot, om homself op die skouer te klop en te kan sê hy’t die land aan die praat,” sê Leon.

Hy voeg by, selfs met sy geskiedenis van manewales en mense verkeerd opvryf, dat daar sekere goed is waaroor jy eenvoudig nie die gek skeer nie.

“Ek like ’n joke, dis my mees geliefkose stokperdjie, maar nie so nie. Jy spot nie met die dood nie. Dit het my familie groot laat skrik en vir my ook. Dis nie ’n lekker gevoel om te hoor jy’s dood en dan lewe jy nog nie. Dit was ’n siek grap, amper nes die Springbokwedstryd van die naweek.”

Soos die noodlot dit wil hê, het Leon Sondag waaragtig ’n klein motorongelukkie beleef. Terwyl hy saam met ’n vriend geëet het, het ’n vrou agter in sy kar vasgejaag en dit ’n “moewiese stamp in gegee” vertel hy. Maar hy is ongedeerd.

Sosiale media is die afgelope paar jaar geneig om sterre tereg te stel.

Deur die jare het van Bill Cosby na Britney Spears al deurgeloop op die netwerk Twitter, byvoorbeeld, en ook plaaslik net verlede week het BBM-boodskappe die land in kennis gestel van Joost van der Westhuizen se kamstige afsterwe.

Leon vertel hy’t selfs al gelees sy gereelde medester Alfred Ntombela is oorlede en het hom toe self amper doodgeskrik. “As ek ’n ou vang wat dit doen, hang ek hom op aan ’n lamppaal,” skerts Leon.