Die flieks The Revenant en The Martian was onder die groot wenners by die 2016 Golden Globe-prysuitdeling Sondag.

Alejandro González Iñárritu se fliek, The Revenant, het weggestap met die prys vir beste dramafliek en hy is as beste regisseur aangewys en Loenardo DiCaprio se vertolking van ’n 19de eeuse grensbewoner wat ’n beeraanval oorleef, het hom die prys vir beste akteur in ’n drama besorg.

Sir Ridley Scott se fliek, The Martian, is as die beste fliek in die kategorie musiekspel of komedie aangewys en Matt Damon is bekroon as beste akteur in ’n musiekspel of komedie.

Anders pryswenners sluit in Brie Larson wat in die fliek Room speel (beste aktrise in ’n drama) en die Joy-aktrise Jennifer Lawrence (beste aktrise in ’n musiekblspel of komedie).

Sylvester Stallone is staande toegejuig toe hy aangewys is as beste byspeler vir die fliek Creed, ’n uitloperfliek van Rocky. Hierdie was slegs sy tweede verskyning by die Golden Globes. Hy het voorheen die seremonie in Los Angeles bygewoon toe die oorspronklike Rocky in 1976 uitgereik is.

Die biofliek Steve Jobs het twee pryse gewen – beste draaiboek vir Aaron Sorkin en beste byspeelster vir Kate Winslet en die treffreekse Mr. Robot en Mozart in the Jungle is ook bekroon.

Dit was ook ’n groot aand vir die popsterre Lady Gaga (beste aktrise in ’n minireeks of TV-fliek vir American Horror Story: Hotel) en Sam Smith (beste oorspronklike liedjie vir die Spectre-temalied Writing's on the Wall).

Die komediant Ricky Gervais was vir die vierde keer die aanbieder en was weer op sy stukke waar hy draak gesteek het met onder meer Caitlyn Jenner, Roman Polanski, Mel Gibson, en Ben Affleck. Hy’t Ben met ’n tong-in-die-kies opmerking bygekom oor hy in Junie verlede jaar sy vrou, Jennifer Garner, gelos het.

Toe hy Ben se beste pel, Matt Damon, op die verhoog moes verwelkom om sy fliek The Martian bekend te stel, het Ricky geskerts: “Hy’s al mens aan wie Ben Affleck nie ontrou was nie!” in verwysing na die skindernuus oor sy ontrouheid.

Ander gasaanbieders by die geleentheid was onder meer Jamie Foxx, Amber Heard, Jennifer Lopez, Jim Carrey en Tom Hanks, wat sy pel Denzel Washington met die Cecil B. DeMille-prys vir sy loopbaanprestasies vereer het.

So lyk die volledige lys wenners by die 73ste Golden Globe-toekennings:

Beste fliek – Drama: The Revenant

Beste akteur – Drama: Leonardo DiCaprio – The Revenant

Beste Aktrise – Drama: Brie Larson – Room

Beste Fliek – Musiekspel of Komedie: The Martian

Beste Akteur – Musiekspel of Komedie: Matt Damon – The Martian

Beste Aktrise – Musiekspel of Komedie: Jennifer Lawrence – Joy

Beste Byspeler: Sylvester Stallone – Creed

Beste Byspeelster: Kate Winslet – Steve Jobs

Beste Regisseur: Alejandro Gonzalez Inarritu – The Revenant

Beste Draaiboek: Aaron Sorkin – Steve Jobs

Beste Oorspronklike Musiek: Ennio Morricone – The Hateful Eight

Beste Oorspronklike Liedjie: Writing's on the Wall deur Sam Smith – Spectre

Beste Animasiefleik: Inside Out

Beste Buitelandse Fliek: Son of Saul (Hongarye)

Beste TV-reeks – Drama: Mr. Robot

Beste Akteur in Dramareeks: Jon Hamm – Mad Men

Beste Aktrise in Dramareeks: Taraji P. Henson – Empire

Beste Komediereeks: Mozart in the Jungle

Beste Akteur in Komediereeks: Gael Garcia Bernal – Mozart in the Jungle

Beste Aktrise in Komediereeks: Rachel Bloom – Crazy Ex-Girlfriend

Beste TV-minireeks of -fliek: Wolf Hall

Beste Akteur in TV-minireeks of -fliek: Oscar Isaac – Show Me a Hero

Beste Aktrise in TV-minireeks of -fliek: Lady Gaga – American Horror Story: Hotel

Beste Byspeler in Reeks, TV-minireeks of -fliek: Christian Slater – Mr. Robot

Beste Byspeelster in Reeks, TV-minireeks of -fliek: Maura Tierney – The Affair

Cecil B. DeMille-toekenning: Denzel Washington.

© Cover Media

Lees ook:

Onvergeetlike oomblikke by die Golden Globes

R1,3 miljard gesoek om Matt Damon van Mars af te red