[caption id="attachment_60946" align="aligncenter" width="450"]Foto: ELITEPHOTOAGENCY.COM Foto: ELITEPHOTOAGENCY.COM[/caption]

Elwood, ook bekend as Yoda, die kruising tussen ’n chihuahua en ’n Chinese kuifhond wat in 2007 as die lelikste hond ter wêreld aangewys is, het onverwags gesterf.

Elwood se eienaar, Karen Quigley (52), sê hy het op Thanksgiving-oggend ewe skielik gevrek. Terwyl sy teen die trane stry, het sy gesê: “Dit was baie skielik.”

Al het die agtjarige hond die afgelope maande gesondheidsprobleme ervaar, het dit gelyk of dit goed gaan.

Elwood se eiesoortige voorkoms het hom die titel help wen. Met sy donker, haarlose lyf en wit Mohawk-kuif het hy gou die bynaam Yoda of ET gekry omdat hy soos die bekende wetenskapsfiksiekarakters gelyk het.

Nadat hy die titel verower het, het die hond van New Jersey die onderwerp van ’n kinderboek oor aanvaarding geword.

Die dierasie het baie mense laat glimlag en ook met verskynings by meer as 200 geleenthede vir verskeie liefdadigheids- en niewinsgewende organisasies help geld insamel.

-Faiza Mallick

Bronne: dailymail.co.uk, metro.co.uk