’n Geklassifiseerde advertensie met ’n foto van ’n ietwat besope man, wat eergister (25 September) in die Kaapse dagblad Die Burger verskyn het, het lesers omtrent na hul selfoon laat gryp om hom te bel en geluk te wens met sy verjaardag.

Die advertensie, met die opskrif KOOOOSIE Van die Kaap, wys ’n foto van Kobus Vermeulen met die onderskrif: “Ek het ’n baie slegte jaar agter die rug, maar vandag is my verjaardag. Bel my asseblief en wens my voorspoed!!!” Sy selfoonnommer rond die advertensie af.

Kobus, wat nou in Durbanville woon, het eergister 46 jaar oud geword, maar was salig onbewus van die advertensie wat sy vriend, Henk Mentz, in die koerant geplaas het.

“Ek het eergisteroggend net na 05:00 ’n oproep van ’n tannie Susan gekry, wat my met my verjaardag gelukgewens het – maar ek het haar nie geken nie,” vertel Kobus.

“Kort daarna toe bel nog ’n vreemdeling uit Kraaifontein. So het dit aangegaan tot ek aan die einde van die dag omtrent 80 oproepe en nog 80 SMS’e van wildvreemdelinge gekry het.”

“Party het gesing – ander het gepreek, omdat die onderskrif gesê het my jaar was so ‘sleg’, maar dit was nie regtig nie. Dis net Henk wat die pap lekker dik aangemaak het.”

Volgens Kobus bak hy en sy vriendekring mekaar gereeld sulke poetse. So het hy ’n hand gehad in dieselfde poets wat hy op sy vriend, Jan van Dyk, gebak het. Op sy verjaardag – op Nuwejaarsdag – het Jan 150 oproepe van wildvreemdelinge gekry.

Gevra of hy nou weer wraak beplan, het Kobus net gesê dat hy nie sommer kwaad raak nie, maar dat hy ’n lysie met sy vriende se name byderhand hou vir wie hy nog poetse wil bak. Henk se naam is nou daarby – en hy belowe dat Henk nie vandag ’n blouoog het nie.

“Die snaaksste en nice-ste deel van die grap is dat ek so baie seëninge van so baie vreemdelinge gekry het. Ek kan nie genoeg dankie sê daarvoor nie.”

Christiaan Boonzaier