Toe Chris King, ’n rekenaarwetenskap-student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), ’n toets misloop omdat die Jammie Shuttle (’n openbarevervoerstelsel wat deur Ikeys gebruik word) nie opdaag nie, het daar ’n idee vir ’n oplossing vir Suid-Afrika se vervoerprobleme ontstaan.

Chris en sy skoolvriend Devin de Vries, ook ’n student aan die UK, het besluit om ’n app te ontwerp wat nie net vir mense kon help om die naaste openbare vervoer op te spoor nie, maar ook al die vertrektye op jou selfoon beskikbaarstel.

Ná ’n toetslopie in die Wes-Kaap word die app, genaamd FindMyWay, vandag (Woensdag 25 September) landwyd bekendgestel. Dit bevat al die vernaamste bus- en ander vervoerroetes en tye van 15 verskillende vervoeroperateurs in Kaapstad, Johannesburg, Pretoria, Durban, Oos-Londen en Port Elizabeth. Dit werk deur die naaste opsie aan jou op te spoor, en jy kan besluit of jy na die naaste opsie wil soek en of jy jou voorkeur-vervoeropsie wil soek (byvoorbeeld busroetes pleks van treinroetes). Dit is beskikbaar op al die vernaamste selfoonplatforms soos Blackberry, Nokia, Android, iPhone en die Windows Phone.

Chris en Devin sê hulle beplan nog dinge vir die app: “In die toekoms sal ons gebruikers kan laat weet as daar vertragings of veranderings in vertrektye is,” sê De Vries, wat sy graad in sakewetenskap (inligtingstelsels) verwerf het. Die app bevat reeds alternatiewe soorte vervoer, byvoorbeeld die City Sightseeing-bus in Kaapstad en die vertrektye van die veerboot na Robbeneiland, maar hulle sê hulle beplan om later ook taxiroetes op die app beskikbaar te maak sodat dit meer as net die hoof-vervoerstelsels kan dien. “Operateurs wat nog nie op die app is nie, kan ons gerus nader om hulle inligting aan verbruikers beskikbaar te stel,” sê Devin.

“Mense gaan nou meer kan verken, hul eko-voetafdruk kan verminder en meer in voeling wees met hul stad.”

Die app is beskikbaar by www.findmyway.mobi of in die app store as ‘FindMyWay’.

Dalena Theron