I-SET, ’n Engelse akroniem vir Inspirasie vir die Wetenskap, Ingenieurswese en Tegnologie, is ’n gemeenskapsprojek van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se kollege vir wetenskap, ingenieurswese en tegnologie wat belangstelling in dié leerareas onder Suid-Afrikaanse leerders wil bevorder. I-SET help onder meer skole om robotika-klubs te stig waar kinders in die namiddae speel-speel met ’n stelletjie wat uit Lego-blokkies en basiese onderdeeltjies bestaan mini-robotte skep en programmeer. Jy sal verstom wees om te sien wat kinders in ’n middag met hierdie stelletjies kan bou.

“Die idee is om kinders van ’n jong ouderdom op ’n prettige manier aan robotika bloot te stel sodat hulle gemotiveer word om eendag robotika te studeer,” sê Dr. Patricia Gouws, ’n dosent aan Unisa se fakulteit vir rekenaarstudies.

Verlede jaar is 30 Unisa-studente deur I-SET in robotika opgelei. Hierdie studente, wat bekendstaan as I-SET buddies, lei nou ander leerders en onderwysers op in robotika.

Patricia en vier van haar I-SET buddies het vandeesmaand ’n werksessie by die College of Cape Town se Guguletu-kampus aangebied. Sowat 50 studente is vir die eerste keer aan robotika blootgestel. Hulle was dol daaroor.

“Ek geniet dit vreeslik. Dit is een van die koelste goed wat ek nog gedoen het,” sê Siyabonga Nicholas Ndimeni, ’n tweedejaarstudent wat dié werksessie bygewoon het. Siyabonga studeer elektriese ingenieurswese en sal nou graag meer oor robotika wil leer.

Die studente is in spanne opgedeel – een helfte van die span moes ’n robotkarretjie bou en die ander helfte van die span moes dié robot programmeer om ’n spesifieke roete te ry. Die finale toets was dat die robotkarretjie ’n roete op soort padkaart moes volg.

“Jy moet so akkuraat moontlik wees. Boonop moet spanmaats leer om goed te kommunikeer en saam te werk sodat hul robot kan werk,” verduidelik Zolile Bolani, een van die I-SET buddies wat die werksessies help aanbied het.

Toe die eerste span hul robotkarretjie perfek op die padkaart laat ry, omdraai en na die beginpunt laat terugkeer, is hulle luid toegejuig. Die studente het gelag en spanmaats het mekaar op die rug geklop.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe vinnig studente ’n nuwe vaardigheid kan aanleer,” sê Patricia. “Dit is regtig eintlik eenvoudig. En om te dink hulle het dié oggend vir die eerste keer iets van programmering geleer.”

Patricia se droom is om meer robotika-klubs in Suid-Afrika te stig. “As net een van die studente wat die werksessie bygewoon het ’n klub in hul gemeenskap begin, is dit uit en uit die moeite werd.”

As jy ’n robotika-klub by jou kind se skool of in jou gemeenskap wil begin, kontak I-SET deur hul blad op Facebook te besoek. As jy nuuskierig is om te sien wat kinders alles met Lego-blokkies kan bou, klik hier.

- Shané Barnard