Die hoofsanger van die gewilde groep Wham! is op Kersdag "vreedsaam in sy slaap oorlede" by sy huis in Oxfordshire, Engeland, het sy publisiteitsagent bevestig.

"Dit is met groot hartseer dat ons bevestig ons geliefde seun, broer en vriend George het vreedsaam by sy huis oor die Kerstyd gesterf," lui die verklaring.

"Die familie vra dat hul privaatheid in hierdie moeilike en emosionele tyd gerespekteer word. Daar sal geen verdere kommentaar in hierdie stadium gelewer word nie."

Volgens die BBC het die Thames Valley-polisie bevestig een van hul ambulanse het Sondag, 25 Desember, ’n eiendom in Goring-on-Thames in Oxfordshire om 13:42 besoek.

Die oorsaak van Michael se dood is nog nie bekend gemaak nie, maar die polisie sê daar was geen verdagte omstandighede nie. Sy voormalige publisiteitsagent, Michael Lippman, het gesê Michael is aan sy hart dood, maar dit is nog nie bevestig nie.

Dié Grammy-wenner het roem gevind in die 1980's saam met die popgroep Wham! voordat hy ’n suksesvolle solo-loopbaan aangepak het.

Talle bekendes het hulde gebring aan die ontslape popster, ook Elton John saam met wie hy gereeld gewerk het.

Van Michael se bekendste liedjies sluit in:

  • Wake Me Up Before You Go Go (saam met Wham!) - 1984
  • Freedom (saam met Wham!) - 1984
  • Careless Whisper - 1984
  • I'm Your Man (saam met Wham!) - 1985
  • The Edge of Heaven (saam met Wham!) - 1986
  • A Different Corner - 1986
  • I Knew You Were Waiting For Me (saam met Aretha Franklin) - 1987
  • Don't Let the Sun Go Down on Me (saam met Elton John) - 1991
  • Five Live EP (saam met Queen and Lisa Stansfield) - 1993
  • Jesus To A Child - 1996
  • Fastlove - 1996

© Cover Media