Die hoofsanger van die rockgroep Linkin Park (41) is glo dood aangetref waar hy Donderdag by ’n privaat woning in Palos Verdes-landgoed in die Los Angeles-distrik in Amerika was.     

Volgens TMZ het die ster homself gehang.


Die In The End-sanger, wat ’n stryd teen ’n alkohol- en dwelmverslawing gevoer het, het al een keer erken hy het selfdood oorweeg omdat hy deur ’n ouer man misbruik is toe hy maar sewe jaar oud was.


“G’n wonder ek het ’n dwelmverslaafde geword nie,” het Chester in ’n onderhoud in 2011 gesê. "G’n wonder ek het vir ’n rukkie van my kop af geraak nie.”

Chester se dood is op dieselfde dag as sy afgestorwe vriend Chris Cornell se verjaardag. Die Soundgarden-rocker het in Mei vanjaar sy eie lewe geneem deur homself te hang.  

Chester word oorleef deur sy ses kinders en sy vrou waarmee hy al 12 jaar getroud is, die model Talinda Ann Bentley.

Die uiters gewilde rockgroep Linkin Park het die rockwêreld vir dekades oorheers en hulle album Meteroa was volgens Billboard.com een van die grootste alternatiewe albums in musiekgeskiedenis.


Die groep se jongste album One More Light is vroeër in 2017 vrygestel. Die jongste vrystelling is getiteld “Good Goodbye”.