Glen Campbell is Dinsdag in die ouderdom van 81 jaar dood. Alzheimersiekte is in 2011 by hom gediagnoseer, maar dit het hom nie gekeer om tot laat in 2012 nog met sy konserttoere voort te gaan nie.

Hy en sy vrou, Kimberly, het daarop aangedring dat hy daarmee voortgaan om ook ’n groter bewustheid rondom Alzheimersiekte by sy aanhangers aan te wakker.

Volgens Tim Plumley, sy agent, was dit die siekte wat sy lewe geëis het.

Een van Glen se grootste treffers, wat ook in Suid-Afrika op die trefferlyste geboer het, was Rhinestone Cowboy. Treffers soos Gentle on My Mind, Sunflower, By the Time I Get to Phoenix, Galveston en The Hand That Rocks the Cradle het van die 1960’s-’80’s aan hom roem besorg.

#GlenCampbell #Legend #rhinestonecowboy #Adios #Basic ??

A post shared by Glen Campbell (@glencampbellofficial) on

Wat nie so algemeen bekend is nie, is dat sy knap kitaarspel gehoor kan word in treffers van The Beach Boys (Good Vibrations en Help Me Rhonda), Frank Sinatra (Strangers in the Night), Elvis Presley (Viva Las Vegas) en The Monkees.


Toe Brian Wilson nie meer saam met The Beach Boys wou toer nie, het Glen hom vervang.

In 1967 het hy selfs ’n konsert vir die Doors geopen – net ’n man en sy kitaar wat ’n skare moes trotseer wat eintlik Jim Morrison wou sien.

Glen was ook deel van Phil Spector se Wall of Sound saam met ’n groep musikante wat as The Wrecking Crew bekendgestaan het.

Sy suksesvolle musiekloopbaan het tot rekordverkope van sy albums gelei waarvan ongeveer 45 miljoen verkoop is. In 2005 is hy vereer deur sy insluiting by die Country Music Hall of Fame.

Dit was ’n lang pad vir ’n man wie se musiekloopbaan in 1960 in “baklei-en-dans-klubs” begin het, boonop iemand wat nooit geleer het om musiek te lees nie.

In 1969 het hy sy buiging op die silwerdoek gemaak in die fliek True Grit as ’n Texas-ranger saam met onder andere John Wayne.

Hy het sy laaste ateljee-album in Junie vanjaar uitgereik. Op die album, gepas getiteld Adiós, is gaskunstenaars soos Willie Nelson, Vince Gill en drie van sy sewe kinders ingesluit.


Vyf van Glen se gewildste treffers

Hulde stroom nog in vir Glen

Sy jongste dogter, Ashley, het hierdie roerende foto van haar en haar pa gedeel. “Hartgebroke. Ek is alles wat ek is aan hom verskuldig, ook alles wat ek ooit sal word. Hy sal so goed en met soveel liefde onthou word.”

Nancy Sinatra, Frank Sinatra se oudste dogter, het haar simpatie met sy familie uitgespreek.

Die twee het I Say a Little Paryer in 1968 saam opgeneem.

Sy het hierdie foto gedeel van die laaste keer dat sy hom gesien het. Nancy sê sy was baie bly hy het haar ten spyte van sy siekte tog herken.

Bykomende bronne: kpt.com, nytimes.com, cnn.com