KOMBERS oor die knieë sit Al Debbo in die sonnetjie hier in sy huis in Bloemfontein.

Teen die mure hang geblokte plakkate, geraamde oorkondes en sertifikate – die stille getuienis van meer as ’n halfeeu se werk as vermaaklikheidster.

Daar is ook die kiekies van medekunstenaars uit toeka se dae, foto’s van sy kinders en op die vloer selfs ’n standbeeld van die grapjas.

Die kontoere van sy gesig is vervalle en jare van snaakse gesigte trek het diep kepe in sy wange gelaat.

Maar as hy sy bekende keps en bril opsit, word Al (86) se oë skielik pieringgroot en skrik die komediant in hom

wakker.

“Ek het ’n swemkeppie op en ’n doekie om my kop,” trek hy sonder uitnodiging los met sy bekende 1968-treffer,

Sonbrilletjies.

Sy asem is kort terwyl hy die liedjie die soveelste keer uitvoer. Hy het twee jaar gelede amptelik sy laaste vertoning

gelewer, maar as die kollig en kamera op hom val, soos met vandag se fotosessie, is daar geen tekort aan geesdrif

nie.

“As hy die hoed opsit, vergeet hy dat hy oud is,” sê sy vrou, Ansa (55). “Soos jy kan sien, doen hy nog gereeld vir ons shows,” spot sy.

“Ek tree nog op,” val Al haar in die rede, “want dis vir my lekker.” Want dit is wie en wat hy is: Akteur. Komediant.

Hy was ook ’n radio-omroeper en sanger.

En humor is sy handelsmerk.

“Om mense te vermaak is beter as om ’n dokter te wees. Ek sou nie iets anders wou doen as om mense te laat lag nie,” sê hy.

En sy snaakse streep was nog altyd daar . . .

Hy was as kind al ’n grapjas, vertel Al, maar dit was sy oom Alec by wie hy aangesteek en sy snaakse giere voor vriende en familie leer uithaal het.

“Eintlik was oom Alec die snaakse een; ek het maar by hom gesien hoe dit werk,” sê hy.

Die Debbo-gesin se wortels lê in Libanon. Al se pa, Azar, het net ná die vorige eeuwisseling in die vroeë 1900’s uit Libanon na Suid-Afrika geïmmigreer om treinspore hier te kom bou. Hier het hy Al se ma, ook ’n Libanees, ontmoet en getrou, en die egpaar het hulle in die Rosestad gevestig waar die Debbo’s jare lank winkeliers was. Dis net daar in die winkel waar Al Afrikaans leer praat het, sy derde taal naas Engels en Libanees.

In hul huis is net Libanees gepraat, vertel Al, “maar in my pa se winkel het baie mense ingekom en net Afrikaans gepraat. Dus kon ek nie anders nie.”

Ná skool het hy vir loodgieter geleer, en wat aanvanklik as ’n gespot tussen vriende en kollegas begin het, het eindelik op ’n lang loopbaan in gekskeerdery uitgeloop.

Lees die volledige artikel in die somer-uitgawe van Tempo