HY STAANvoor die slaghuis en wag vir ons. Hy glimlag, groet met ’n stewige handdruk en gee met die ander hand ’n sakkie droëwors en peri-peri-biltong aan.

“Wat van ’n koeldrankie? Wat anders kan ek vir julle kry?” vra Pieter Duminy (26), deelnemer aan Boer Soek ’n Vrou. Hy hou galant die deure van sy bakkie oop en verduidelik: Hy het vandag hier by sy familie se slaghuis op Frankfort in die Vrystaat uitgehelp.

Nou gaan hy ’n draai maak op sy plaas so 20 km buite die dorp.

Pieter bestuur soos net ’n boer kan: kuier-kuier oor ’n hobbelrige grondpad met sy groot hande wat moeiteloos die stuurwiel beheer.

Wanneer hy sy oë van die pad afhaal en vir jou kyk, laat die opregtheid in sy blou oë jou voel asof jy die belangrikste

mens in sy lewe is. En sy rustige stem hipnotiseer jou so dat jy aan sy lippe hang.

Ja-nee, dit is maklik om te sien hoekom Pieter die gewildste boer in die reeks was. Dit het hom trouens byna 12 uur geneem om deur die stapel briewe van hoopvolle meisies te lees.

Dit is vir hom ononderhandelbaar dat sy droomvrou eerlik moet wees, hom moet vertrou en bo alles ’n opregte en diep geestelike verhouding met die Here moet hê, stippel hy dit uit.

“Alles vloei eintlik uit jou verhouding met die Here,” sê hy op sy ernstige, kalm manier. “As sy God respekteer, sal sy my respekteer.”

Hy het al ’n paar keer gesê hy sal dadelik weet as hy sy trouvrou sien.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 14 Oktober 2010