By ’n wildpark in die ooste van Zimbabwe het ’n leeu ’n vrou deur ’n draad aangeval.

Die staatsbeheerde Manica Post het aanlyn ’n foto gedeel van Ngoni Hera met bloed aan die regterkant van haar lyf. Die aanval het by die Eco Game Park in Headlands sowat 140 km vanaf die Zimbabwiese hoofstad, Harare, gebeur.

Volgens die koerant het Ngoni “ernstige beserings aan haar regterheup en -arm opgedoen toe ’n ingehokte witleeu haar aanval terwyl sy op die heining geleun het”.

Haar lewensmaat het glo foto’s van haar geneem toe die leeu vanuit ’n ander deel van die hok verskyn. Aanlyn is beweer sy het ’n selfie geneem. Dis onduidelik wanneer die voorval gebeur het.

Die vrou is tans in ’n hospitaal in Harare.

Die enigste rekord van ’n Eco Game Park in Headlands is die Nyati Eco Game Park.

Volgens Mogaznews is die park die tuiste van diere wat te oud is om in die natuur te oorleef.

Daar was egter geen kommentaar van die Nyati Eco Game Park toe hulle Dinsdag gekontak is nie. Die park is ’n gewilde keuse vir skoolbesoeke en reünies.

Leeu-aanvalle in toeristegeriewe is uiters seldsaam in Zimbabwe.

’n Japannese vrou is in 2005 in Norton by die Lion and Cheetah-park deur ’n leeu doodgemaak en in 2010 het ’n leeu by ’n park in Gweru David Coltart, die voormalige minister van onderwys, se dogter verskeur.

Bron: News24