In ’n skokkende wending het president Jacob Zuma in ’n brief aan adv. Shaun Abrahams, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), gevra om redes te verskaf hoekom hy nie as vervolgingshoof geskors moet word nie hangende ’n ondersoek rakende sy bevoegdheid om dié posisie te beklee.

Dít volg ná die NVG se mislukte poging om Pravin Gordhan, minister van finansies, vir bedrog te vervolg. Nadat Abrahams met bravade die klagte teen Gordhan in ’n mediakonferensie aangekondig het, moes hy dit op 31 Oktober terugtrek toe dit blyk die saak teen Gordhan is papierdun.

In ’n uittreksel uit die brief skryf Zuma: “Soos jy weet, is die NVG ’n belangrike grondwetlike instelling in die toepassing van geregtigheid. Die publiek se vertroue in dié instelling is noodsaaklik.

“Ek gun jou hiermee die geleentheid om in ’n geskrewe voorlegging te verduidelik hoekom ek jou nie moet skors hangende die uitslag van ’n ondersoek na jou bevoegdheid om jou huidige posisie te beklee nie. Hierdie skrywe moet my kantoor voor of op 28 November bereik.”

Opposisiepartye en drukgroepe het gepleit dat Abrahams se kop moet rol vir wat hulle vroeër as ’n onsinnige vervolging van die minister van finansies bestempel het.

Koerante het vroeër berig die NVG het nog nie sy visier van Gordhan afgehaal nie en beoog om hom voor Kersfees op hernude bedrogklagte aan te kla rakende ’n sogenaamde geheime intelligensie-eenheid wat onder sy bewind by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) van stapel gestuur is.

Gordhan het nog altyd volgehou dat hierdie eenheid sy werk binne die raamwerk van die wet verrig het.