Suid-Afrikaners het vroeg Woensdagoggend die hartseer tyding gekry dat die trekklavier-en-liedjieskryf-legende Nico Carstens Dinsdag in die ouderdom van 90 jaar oorlede is. Huisgenoot se Jacques Myburgh het in ons tydskrifuitgawe van 18 Februarie ’n laaste onderhoud met hom gevoer.

[caption id="attachment_143693" align="alignnone" width="600"]Danksy oorfone het Nico niemand in die ouetehuis gepla wanneer hy vir homself liedjies gekomponeer het nie. Foto: Peet Mocke Danksy oorfone het Nico niemand in die ouetehuis gepla wanneer hy vir homself liedjies gekomponeer het nie. Foto: Peet Mocke[/caption]

Sy oë is toe terwyl sy vingers oor die klawers gly en hy is duidelik meegevoer deur die musiek wat hy uit die elektriese klawerbord optower.

Maar dis net hy wat dit kan hoor, want die 90-jarige trekklavierkoning moet die ander inwoners van die ouetehuis hier op Kuilsrivier in ag neem.

Nico Carstens gebruik deesdae ’n stel oorfone wanneer hy hier in sy klein slaapkamer musiek maak. Van die 1950’s tot die ’70’s het boeremusiekliefhebbers van die een dorp na die ander na sy vertonings gestroom. Nou kla sy buurvrou in die ouetehuis oor die “geraas”.

Maar dit skeel hom min, vertel die musikant en komponis toe Huisgenoot hom net meer as ’n week voor sy 90ste verjaardag besoek.

[caption id="attachment_143700" align="alignnone" width="602"]Nico Carstens met sy magdom plate. Hy het onlangs die driemiljoenkerf vir CD-en-plate-verkope verbygesteek. Foto: Peet Mocke Nico Carstens met sy magdom plate. Hy het onlangs die driemiljoenkerf vir CD-en-plate-verkope verbygesteek. Foto: Peet Mocke[/caption]

“Dit is nou my wêreld dié en ek’s gelukkig. Dit is die enigste plek waar die diens puik is en ek drie keer per dag ’n vegetariese maaltyd kry,” sê hy oor sy woonplek van die afgelope twee jaar.

Sy trekklavier het hy weggepak, maar hy leef nog sy passie op die klawerbord uit. “Ek komponeer deesdae net vir myself . . . daar is Carstens-treffers wat niemand ooit sal hoor nie.”

Die 90ste herdenking van sy geboortedag (sy verjaardag was op Woensdag 10 Februarie) is net die jongste van ’n hele klomp mylpale in sy bedrywige lewe.

Hy rits die syfers af: Daar’s die meer as 3 miljoen CD’s en plate wat hy verkoop het; sy 2 000 trefferliedjies; die sowat 800 000 km wat hy en sy gewilde Nico Carstens-orkes op toer afgelê het.

En hy het boonop tyd gemaak vir nie minder nie as ses huwelike (met een vrou het hy twee keer getrou) en vyf kinders. (Lees die kassie Koning van Harte.)

G’n wonder hy is deesdae tevrede om net rustig vir homself musiek te maak hier in die ouetehuis nie.

[caption id="attachment_143699" align="alignnone" width="600"]Omring deur al vyf sy kinders, (van links) Klem, Lani, Marcel, Nicolise en George, wat in 2001 oorlede is. Foto: Verskaf Omring deur al vyf sy kinders, (van links) Klem, Lani, Marcel, Nicolise en George, wat in 2001 oorlede is. Foto: Verskaf[/caption]

Watter van die duisende liedjies uit sy pen is sy gunsteling?

Hy sit agteroor en dink eers ’n paar oomblikke.

“Beslis die Helena Tango,” antwoord hy en vertel dan die storie agter die liedjie.

Dit was in die laat 1950’s toe hy een aand op Keimoes in die Noord-Kaap speel. “Ek het hierdie blonde meisie met sulke mooi oë daar ontmoet. Sy het haar as Toska voorgestel. Sy wou baie graag Johannesburg toe trek; ek kon die liggies van die stad in haar oë sien flikker.”

Nico het haar toe ’n saamrygeleentheid Johannesburg toe aangebied. “Later vind ek toe uit haar naam is Helena Dreyer. Sy was ’n bietjie skaam vir haar boerenaam.”

Dit was nie lank nie of hy en Helena is getroud – en hy komponeer toe vir haar die tango met haar naam.

Sal hy dit oorweeg om weer te trou?

“Nie hier (in die ouetehuis) nie,” antwoord hy skertsend. “Nie een van die vroue wat saam met my bly, is jonk of blond nie.”

Dis vir hom besonders om 90 te word, maar hy voel g’n so oud nie, voeg Nico by.

“Kyk, ek het my oupa en my oupagrootjie verbygesteek, maar ek voel nog normaal.”

Sy oudste seun, Klem Carstens, is ook al ’n oupa. “Ek het met my kleindogter gespot: ‘Hoekom maak jy my ’n oupagrootjie; nou gaan ek oud voel,’ ” sê hy en lag.

Een ding wat hy mis, is die peperduur vuurwaens waarvoor hy so lief was: Cadillacs,

Pontiacs, Buicks, Jaguars. “Op my ouderdom mag ek nie meer bestuur nie.

Ek mis dit om voet in die hoek te sit. Gee my net ’n vinnige kar en ek’s gelukkig.”

Dit was juis sy liefde vir die langpad wat gemaak het dat hy honderdduisende kilometers op pad na konsertbestemmings saam met sy orkes afgelê het. “Ek kon maklik op ’n vliegtuig klim en my orkeslede daar kry, maar ek het geglo in saam reis in ons bussie. Ons het ’n wonderlike kameraadskap so opgebou.”

Nico onthou bowenal hoe hartlik hulle op plattelandse dorpe verwelkom is.

Veral deur die sogenaamde Carstensgroupies. Wanneer Nico-hulle klaar gespeel het op ’n dorp, het die aanhangers daar die volgende dorp gebel en hulle gewaarsku die orkes is op pad.

“As jy weer sien, staan daar motors in die pad en wag om ons te begelei na hul dorp.

“Nadat ons opgetree het, het die mense gestry oor waar ons moet slaap; almal wou kon sê ons het by hulle oorgebly. Die gasvryheid was wonderlik.”

[caption id="attachment_143701" align="alignnone" width="602"]Toe hy nog die trekklavier met sy goue vingers bespeel het. Foto: Verskaf Toe hy nog die trekklavier met sy goue vingers bespeel het. Foto: Verskaf[/caption]

Maar daar was ook hartseer op sy lewenspad. In 2001 is sy seun George aan ’n seldsame siekte dood wat sy bene en spiere aangetas het. “Ek mis hom so baie. Ek wens hy kon my 90ste verjaardag saam met my vier.”

George het voor sy dood in New York as kunstenaar en modeontwerper sukses behaal.

“Hy was ’n baie talentvolle man en ek’s ongelooflik trots op hom,” vertel Nico. “My hart breek nog elke dag oor hy so vroeg van ons af weggeneem is.”

Sy oudag is allesbehalwe eensaam. “My vier ander kinders behou nog gereeld kontak met my en ek’s gelukkig om hulle naby my te hê.”

Klem, sy oudste seun, versamel al sy plate om te verseker Nico se werk bly behoue. Hy hoor ook gereeld van sy jare lange vriend die rolprentmagnaat Boet Troskie.

“Toe hy nog hier in die Kaap gewoon het, het ons mekaar gereeld gesien . . . hy het ’n vleuelklavier in sy voorportaal gehad waar ons altyd saam gespeel het.

Hy’t altyd so breed geglimlag en gesê: ‘Man, Nico, dié is nou lekker!’ ” Boet het intussen teruggetrek Bloemfontein toe.

Nico sit op sy enkelbed en wys ons nog van sy gunstelingplate: Die Goue Vingers van Nico Carstens; Konsertina Jol; Op Toer met Nico; Zambesi . . .

“Niks hiervan sou moontlik gewees het as dit nie was vir my mentor, Hendrik Susan (die bekende orkesleier), nie.”

Nico vertel hy was 19 jaar oud toe Hendrik hom in die Koffiehuis in Kaapstad hoor speel. “Ná die tyd het hy gevra of ek nie saam met hom wil toer nie. Ek was stomgeslaan; hier staan ’n legende voor my en hy is beïndruk deur my spel. Dit het onwerklik gevoel.”

So is die jong Nico toe saam met Hendrik en sy orkes na Aliwal-Noord vir ’n Kerskonsert. Hy sou vyf jaar die trekklavier in Hendrik se orkes speel voor hy sy eie orkes gestig het.

Het hy berou oor enigiets? Nico sit agteroor en kyk na die foto’s van sy familie bo sy klawerbord, vryf ’n slag deur sy grys boskasie.

“Nee, dit was altyd vir my so lekker om mense blydskap te gee met my musiek.

“Memories were made,” sê hy en streel dan met sy hand oor die klawers.

KONING VAN HARTE

Nico Carstens het die hartsnare behoorlik getokkel. In 1948 is hy met Elize Lategan getroud (Klem en Nicolise is uit die huwelik gebore); in 1952 het hy met Helena Dreyer getrou; in 1957 met die skrywer Vera Gibson (sy oorlede seun, George, is uit die huwelik gebore); in 1967 met die choreograaf Ann Vorster (hulle het geskei, maar weer in 1976 getrou en het ’n dogter, Lani); en in 1987 met Salomé (hulle het ’n seun, Marcel).

BOBAASMUSIKANT

Nico en sy orkes se vele musiekprestasies sluit in:

? eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat ’n miljoen langspeelplate verkoop het;

? ’n Goueplaat-prys in 1959;

? ses jaar agtereenvolgens (1965 tot ’70) wenner van Springbokradio se Sarie-prys in die kategorie beste boereorkes; en

? ses jaar in Ollie Viljoen se ateljeeorkes in die bekroonde televisiereeks Spies & Plessié.