Thomas Maycroft sê hy het die versnellerpedaal pleks van die rempedaal getrap, waarna die motor teen sy vrou, wat agter die voertuig was, vasgejaag het.

Thomas het ten tyde van die ongeluk net sy leerlinglisensie gehad en het nog nooit die Peugeot bestuur wat sy vrou gereeld bestuur het nie. Hy sê sy was voor die tragiese ongeluk op pad om haar weeklikse inkopies te gaan doen. “Sy’t my gevra om in die motor te klim en die rempedaal te trap sodat sy kan kyk of die remligte werk. Ek het nie geweet watter pedale is watter nie. Ek het my voet neergesit waar ek gedink het die rempedaal is, toe skiet die motor agteruit.”

Luidens berigte het sy 69-jarige vrou agtertoe “gevlieg” en is sy onder die motor, wat in trurat was, gesleep tot dit buite die bure se skuur naby hul huis in Norfolk, Engeland, tot stilstand gekom het.

’n Buurman wat ten tyde van die voorval televisie gekyk het, het die geskree buite gehoor.

“’n Vrou het geskree: ‘Kry dit van my af!’ Die motor het deur die heining in my agtertuin gebars en teen my skuur gebots.”

Paramedici het die vrou behandel, maar sy is kort daarna dood. Die oorsaak van haar dood was breinbesering weens hartstilstand wat deur trauma veroorsaak is. Die ondersoekbeampte op die toneel het gesê mev. Maycort het ’n swak besluit geneem om agter die motor te staan om die remligte na te gaan en kon versigtiger gewees het.

Bron: Mirror.co.uk