Die 14-jarige seun wat verlede jaar na bewering deur sy skoolhoof aangerand is, is Sondag in die Middelburg-hospitaal oorlede, het Jasper Zwane, woordvoerder van die departement van gesondheid in Mpumalanga, aan Huisgenoot bevestig. “Dis baie hartseer,” het Jasper bygevoeg. Die tiener, Sphamandla Choma, is verlam nadat hy glo in November deur die hoof aangerand is oor R150 wat hy en ’n ander seun kwansuis gesteel het. Sedertdien was hy in en uit die hospitaal om versorg te word omdat hy niks vir homself kon doen nie.

Dis nog nie duidelik of die familie voortgaan met ’n siviele eis van R25 miljoen teen die departement van onderwys nie. Hul prokureur, Eddie Mabaso, moet nog terugvoer gee.

Die hoof is aangekla van wangedrag en die eerste sessie vam sy dissiplinêre verhoor is die afgelope Vrydag gehou, voeg Zwane by. “Dit is vir my baie pynlik, my hart is seer omdat ek nie weet hoe om dit hanteer nie. Ek sukkel om aan te pas,” het Siphamadla se ma, Christine Choma, aan die SABC gesê. Die seun was nog nie weer dié jaar terug skool toe nie. Sy rugmurg is beseer in die beweerde aanval en hy was in ’n rolstoel vasgekluister. “Hy het my gepootjie en het sy knie op my bors gesit terwyl hy my uitgevra het oor waar die geld is. Ek het vir hom gesê ek weet nie,” het Sphamandla in Januarie in die Mhluzi-township in Middelburg aan die SABC vertel.

Ná ’n onlangse besoek aan die seun het die LUR vir onderwys in die provinsie, Reginah Mhaule, gesê daar is bewyse van die aanranding.

“Ek het ’n voorlopige verslag van die skool ontvang, maar daar is ’n behoefte om die verslag te versterk sodat daar geen skuiwergate is nie,” het sy vertel.

“Ons het ’n onafhanklike liggaam uit ’n ander distrik aangestel om die saak verder te ondersoek.

Ekstra bronne: Caxton News Service, ewn.co.za, sabc.co.za, Mpumalanga News