Leerders is ten gunste van ’n langer skooldag om ’n derde taal aan te leer, het ’n studie deur Pondering Panda Vrydag bevind.

“Daar is bevind dat byna drie uit vyf leerders (59 persent) voel dat dit ’n goeie idee is . . . dat die skooldag met ’n uur vir gr. 4 tot 12 verleng word,” het die woordvoerder, Shirley Wakefield, in ’n verklaring gesê.

Die maatskappy het in Augustus selfoononderhoude met 2 906 leerders tussen 13 en 24 landwyd gevoer.

’n Derde het gedink dis ’n slegte idee, terwyl 9 persent geen opinie oor die saak gehad het nie.

Wakefield het gesê die ondersoek is ’n duidelike aanduiding dat jong mense graag wil leer.

“Leerders het ook hul geesdrif om ’n derde taal aan te leer getoon en weer hul ondersteuning vir die onderwysdepartement se voorstelle getoon.”

In die verslag is verder bevind dat swart en bruin leerders meer belangstel om wetenskap en wiskunde te leer, pleks van ’n derde taal.

“Indien ’n verpligte verlenging van die skooldag ingestel word . . . het 56 persent gesê dat hulle liewer die ekstra tyd wil bestee aan wetenskap en wiskunde. Vergeleke hiermee was 38 persent ten gunste daarvan om ’n ander taal te leer.”

- Sapa