’n Matriekleerder van die Hoërskool Jeugland in Kempton Park het in die hof voorgekom nadat hy na bewering by die skool ingebreek en kaalfoto’s van homself op ’n onderwyseres se lessenaar geplaas het, berig Beeld.

Die 18-jarige het in September by die skool ingebreek. Hy is Dinsdag in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Woensdag het hy in die Kempton Park-landdroshof voorgekom op aanklag van inbraak.

’n Saak van persoonlikheidskending in verband met die naakfoto’s is ook by die inbraakdossier gevoeg. Dit is nie bekend of iets tydens die inbraak by die skool gesteel is nie.

Landdros Prince Manyathi het die saak tot volgende maand uitgestel vir verdere ondersoek.

Die seun, Jaco Janse van Rensburg, se prokureur, André Swanepoel, het aan die koerant gesê sy kliënt sal met sy matriekeksamen voortgaan. -Sapa