Woensdag het regt. Thokozile Masipa beslis dat Oscar psigiatriese waarneming moet ondergaan om te bepaal of ’n geestestoestand, spesifiek algemene angssteuring, ’n rol gespeel het toe hy die model Reeva Steenkamp op Valentynsdag verlede jaar doodgeskiet het. Baie mense het ’n mening oor geestesiektes, maar ná die hof se besluit is daar ’n toename in verkeerde inligting en misverstande oor toestande soos algemene angssteuring. “As gevolg van onlangse verwikkelinge is mense met algemene angssteuring bang vir stigmatisering en ander se reaksie. Hulle is bekommerd dat hulle of ’n geliefde potensieel ’n gevaar is,” het die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se bedryfsbestuurder, Cassey Chambers, gesê. Angs word dikwels misverstaan en mense verstaan nie dat angs ’n siekte kan wees nie. Terwyl dit heeltemal normaal is om van tyd tot tyd angstig te voel, veral wanneer jy in ’n stresvolle omgewing woon, is kwaai, aanhoudende angs wat jou daaglikse funksionering beïnvloed ongesond.

'Ek kry dikwels die oorweldigende gevoel dat iets vreesliks gaan gebeur.'

“Algemene angssteuring is ’n aanhoudende, intense en oormatige vlak van kommer wat so erg is dat dit iemand se funksionering belemmer,” sê die Johannesburgse sielkundige Kevin Bolon.

Wanneer jy jou oor alles bekommer en jou kommer neem so baie tyd en energie in beslag dat jy jou werk- en sosiale verantwoordelikhede begin versuim, is daar ’n probleem.

“My bekommernisse neem party dae oor en ek voel angstig, al is daar nie ’n rede daarvoor nie,” sê Lara (33), wat aan algemene angssteuring ly.

“Ek kry dikwels die oorweldigende gevoel dat iets vreesliks gaan gebeur – my familie en vriende verstaan eenvoudig nie.”

Belangrikheid van behandeling

Angs gaan nie vanself weg nie, en kan met tyd vererger. Hoe vroeër dit dus behandel word, hoe beter.

Algemene angssteuring is by meer as dubbel soveel vroue as mans gediagnoseer, maar dit beteken nie mans ly nie daaraan nie. Trauma in die kinderjare, chroniese siekte, stres en genetika (angs kan ook ’n familie-eienskap wees) is van die risikofaktore vir die siekte. Dit kan ’n langtermyn-uitdaging wees om met die toestand te leef; die steuring maak jou nie net bekommerd nie.

“Dit maak dat mense hiperbewus is van moontlike gevare soos siekte, persoonlike veiligheid en moontlike natuurrampe. Hulle ervaar dinge as ernstiger of gevaarliker as wat dit werklik is,” sê Kevin. Dit kan ook ander toestande soos depressie, slaaploosheid, dwelmmisbruik, kopsere en maagpyn veroorsaak of vererger. Voor algemene angssteuring by iemand gediagnoseer kan word, is daar sekere kriteria waaraan voldoen moet word.

'Die steuring is ’n baie ongemaklike en stresvolle toestand.'

Dit sluit in minstens ses maande lank byna daaglikse oormatige kommer en angs, kommergevoelens wat swaar beheer word en angs wat nood veroorsaak of die alledaagse lewe steur.

Pasiënte voel ook rusteloos en moeg, hulle sukkel om te konsentreer, het spierspanning en sukkel om te slaap.

“Die steuring is ’n baie ongemaklike en stresvolle toestand,” sê Kevin, maar beklemtoon dat dit nie gevaarlik is nie. Angs is ’n introspektiewe saak en dit is hoogs onwaarskynlik dat lyers ’n gevaar vir ander is.

Angssteurings kan deeglik behandel word en daar is baie opsies beskikbaar: Terapie, medikasie, ondersteuningsgroepe en leefstylveranderings is belangrike hulpmiddels.

Sadag het ’n uitgebreide verwysingslys en daar is inligting beskikbaar op hul webtuiste, sadag.org. Bel die beradingsentrum by 0800-21-22-23 of 0800-567-567.