Die internet is oral; tablette, rekenaars en slimfone is volop en dit is belangrik dat jy seker maak jou kinders gebruik die internet veilig. Hier is Google se nege topwenke oor veilige internetgebruik.

  • Hou rekenaars in ’n sentrale plek

Dit gaan dit makliker maak om ’n ogie oor jou kinders se aanlyn aktiwiteite te hou.

  • Wees bewus van waar jou kinders aanlyn gaan

As jy jong kinders het, sal jy hulle dalk met hul aanlyn soektogte moet help. Met ouer kinders kan jy gesels oor watter soort webtuistes hulle van hou en wat nie betaamlik is vir jul gesin nie. Jy kan ook sien watter webtuistes jou kinders besoek het deur die webleser se geskiedenis deur te gaan. ’n Ander opsie is Google Safe Search, wat soekresultate filtreer en potensieel eksplisiete materiaal verwyder. Dit is ook maklik om Google Safe Search jou tuisblad te maak.

  • Gebruik privaatheidsverstellings en saamdeelkontroles

Baie webtuistes wat deur gebruikergegenereerde inhoud gekenmerk word, soos YouTube en sosiale netwerke, het saamdeelkontroles wat gebruikers in staat stel om te beheer wie hul profiel sien. Saamdeelkontroles is baie belangrik wanneer jou kinders detail soos name, adresse of telefoonnommers op sulke openbare webtuistes plaas. Leer jou kinders ander se privaatheid respekteer deur nie vriende en familie se persoonlike inligting in hul profiele bekend te maak nie.

  • Beskerm wagwoorde

Herinner jou kinders daaraan dat hulle nie hul wagwoorde met ander moet deel nie. Maak seker hulle leer die gewoonte aan om die “remember me”-verstelling op openbare rekenaars (soos by die biblioteek) te verander.

  • Pasop vir vreemdelinge

Leer jou kinders om nie persoonlike ontmoetings te reël met die mense wat hulle aanlyn ontmoet nie; hulle moet ook nie persoonlike inligting met vreemdelinge aanlyn deel nie omdat baie mense oneerlik kan wees.

  • Help virusse vermy

Gebruik antivirus-sagteware en hersien dit gereeld. Maak seker jou kinders laai nie lêers by lêerdeel-webtuistes nie en laai ook nie aanhegsels af van e-posse van onbekendes nie.

  • Leer jou kinders verantwoordelik kommunikeer

Die volgende is ’n goeie reël: As jy nie iets reguit aan iemand sou sê nie, moenie dit in ’n teksboodskap, e-pos of kommentaar op iemand se profiel sê nie.

  • Bekyk alle inhoud krities

Net omdat jy dit aanlyn sien, beteken nie dit is waar nie. Kinders moet leer onderskei tussen betroubare en onbetroubare bronne, en hulle moet aanlyn inligting leer verifieer. Maak seker dat jou kinders verstaan hulle kan plagiaat pleeg as hulle inhoud direk van ’n webtuiste kopieer en plak.

  • Leer jou kinders oor aanlyn veiligheid

Dis onmoontlik om die hele tyd jou kind se aanlyn aktiwiteite te monitor. Soos wat hulle ouer raak, moet hulle weet hoe om op hul eie die internet veilig en verantwoordelik te gebruik.

Besoek google.co.za/goodtoknow/ vir nog inligting en raad.

- Gilda van Schalkwyk