Die onafhanklike finansiële raadgewer Sheldon Loxton glo sy belangrikste rol as ouer is om vir sy kinders te voorsien en hulle so te lei dat hulle eendag sterk, selfverseker en kundig sal wees. “Ons samelewing gee kinders baie geleenthede om te floreer en hul potensiaal te bereik. Maar met al die fokus op sport-, kultuur- en akademiese prestasie, is daar baie min fokus op die blootstelling aan geld,” sê hy.

“Om finansies te hanteer is ’n lewensvaardigheid wat ons elkeen die een of ander tyd in die gesig gaan staar en in baie gevalle doen ons bitter min om ons kinders daarmee te help. Daar is talle stories oor hoogs gekwalifiseerde mense wat weens swak finansiële bestuur nie floreer nie.”

Wat moet ouers doen?

Moet jy jou kind bank toe neem of aandring dat finansiële geletterdheid op skool aangebied word? Sheldon glo daar is niks beter nie as ’n betrokke ouer wat finansiële opvoeding as deel van hul pligte sien. “Ek sien dit in my eie kinders. Hulle luister dalk nie altyd na my nie, maar hulle doen my altyd na.” Hier is ’n paar van Sheldon se wenke:

  • Moenie geld as ’n verbode onderwerp in jou huis behandel nie: Bespreek sulke sake met jou kinders. So sê jy nie net “nee” of “vra later” nie, maar verskaf ’n platform waar hulle gemaklik voel om oor finansies met jou te praat.
  • Verskaf geleenthede vir jou kinders om geld te verstaan en ervaar: Kinders so jonk soos vier moet sonder vrees geld kan gebruik. Laat hulle byvoorbeeld by die winkel vir brood en melk betaal of binne ’n begroting ’n maat se verjaardaggeskenk koop. Hoe meer foute kinders met klein bedrae geld maak, hoe minder geneig is hulle om daardie foute op ’n groter skaal te herhaal.
  • Sukses lê nie altyd by hoeveel geld jy maak nie; dit is hoe jy die geld gebruik wat het wat jou sukses bepaal.
  • Jou kind se toekomstige finansiële sukses is in jou hande: Dit lê nie in monetêre befondsing nie, maar in ’n praktiese benadering tot ouerskap wat leierskap en leiding benodig.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.