Die regte voeding in die tyd tussen die kinderjare en adolessensie is noodsaaklik, aangesien dit belangrik is vir groei en ontwikkeling. Naazneen Khan, Nestlé Suid-Afrika se bestuurder van voeding, gesondheid en welsyn, gee raad oor hoe jy jou kinders goeie eetgewoontes kan help aanleer.

  • Leer jou kind onderskei tussen goeie en ongesonde voedsel. Kinders is geneig om sekere kos te verkies, maar as jy hulle bekendstel aan ’n verskeidenheid voedselbronne, sal dit hul voorkeure verander.
  • Laat jou kinders saam met jou kruideniersware koop en voedsel berei. Dis opvoedkundig en sal hulle van ’n wyer verskeidenheid kossoorte leer hou.
  • Volg altyd die aanwysings op die verpakking en hou by die porsiegroottes. Moenie jou kind laat ooreet omdat jy dink hy het meer kos nodig nie. As jy nie seker is oor die regte porsiegroottes nie, raadpleeg ’n voedingkundige.
  • Eet minder diepgebraaide kos. Probeer liewer ’n verskeidenheid ander, gesonder gaarmaakmetodes, soos rooster, bak of stoom. Vetvrye of laevet-produkte is goed; kies byvoorbeeld hoender sonder die vel en maer vleis.
  • Moenie net sjokolade en skyfies in jou koskas aanhou nie. Maak seker jou kind het altyd vrugte, volgraanversnaperinge, water en gegeurde melk vir peusel. Laat tog jou kind soms ’n lekkerny toe.

Bron:  Naazneen Khan namens Nestlé Suid-Afrika