Dit is nie maklik om die ma van ’n jong baba te wees nie. ’n Baba van ’n paar weke oud pas nog aan by die lewe buite die baarmoeder en hulle verander gedurig en leer nuwe dinge oor hul omgewing. Dit beteken hierdie faktore beïnvloed hul slaappatrone en dit kan ’n nagmerrie wees om hul slaaproetine vas te stel.

’n SuperMa in ons Facebook-gemeenskap het raad gevra oor haar nege weke oue seun: “Van die begin af sou hy ná sy bottel aan die slaap raak, terwyl ek nog winde uitvryf. Maar nou wil hy glad nie in sy wiegie slaap nie. Ons sit tot in die oggendure met hom en net wanneer ek hom in die wiegie neersit, begin hy skop en sy arms waai; dan is hy wakker. Wat kan ek doen? Ek het ook ’n eenjarige seun, so ek is nou baie moeg.”

Jacqui Flint is ’n slaapkenner en die eienaar van Baby Love & Toddler Love, ’n landwye maatskappy wat spesialiseer in roetine- en slaaphulpprogramme vir ouers van babas en kinders jonger as vier. Sy sê as jy ongesonde slaapassosiasies wil vermy, soos ’n baba wat net aan die slaap raak as iemand hulle wieg, moet jy hierdie vier tegnieke probeer:

  • Sit jou baba in hul wiegie voor hulle moeg raak. “ ’n Nege maande oue baba behoort nie meer as ’n uur op ’n slag wakker te wees nie. Hulle word oorstimuleer wanneer langer as ’n uur wakker is.” Sy sê babas gaan dan moeilik slaap; moenie verwag hulle gaan self aan die slaap raak nie. “Moenie wag dat jou baba hul oë vryf nie; lê hulle sowat vyf minute voor die einde van die uur neer.”
  • Neem ’n slaaphouding aan. “Soos jy hulle gaan neerlê, moet jy hul naam sê en jou stemtoon verlaag. Vermy ook oogkontak; dit kan party babas stimuleer nie. Vertel jou baba dis slaaptyd.” Sy sê hierdie gedrag maak jou baba reg vir slaap en gee hulle kans om verstandelik en fisiek te ontspan.
  • Maak die wiegie hul ruimte. “Probeer hulle so gereeld moontlik wakker in die wiegie sit sodat hulle besef dit is die plek waar hulle moet slaap en sodat hulle leer om self aan die slaap te raak.”
  • Skep ’n gesonde slaapassosiasie. “ ’n Fopspeen of ’n kombersie is ’n goeie idee, maar hulle moet dit net hê wanneer hulle deur die dag of snags slaap sodat hulle gesonde slaapassosiasies skep.”

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.