Wat doen jy as jy en jou kind ’n indringer in jou huis aantref? Sanette Smit is ’n deskundige op die gebied van selfverdediging sowel as ’n ervare karate-instrukteur en sê een van die grootste foute wat vroue maak, is om die beste van hul aanvaller te glo.

“Moenie naïef wees nie en moenie bang wees om op te tree nie. As jy verkeerd was en die mens wou jou nie skade berokken nie, is die belangrikste dat jy veilig is – nie dat jy dalk sy eer gekrenk het nie.”

Sy vertel sy het tot onlangs in vele sportrade gedien, wat veroorsaak het dat sy saans laat by die huis kom. “Wanneer ek dan by die huis kom en ek voel ongemaklik, sou ek nie gaan slaap sonder dat ek elke kamer en wegkruipplek in die huis uitgekyk het nie. Daar was nooit iemand nie. Maar as daar was, sou ek in ’n beter posisie gewees het as wat hy my onkant betrap het terwyl ek slaap.”

Sanette het in selfverdediging begin belangstel omdat sy besef het die vroue en kinders in haar karateklasse in Vredehoek, Kaapstad, is wel fisiek daartoe in staat om hulself te beskerm, maar hulle weet bitter min van die aanvaller en sy taktiek. “Dis toe dat ek onderhoude begin voer het met verkragters en verkragtingslagoffers. Ek het besef ons weet nie waarmee ons te doen het nie; ek was met afgryse vervul oor van die stories wat ek gehoor het.”

Die onderhoude en navorsing wat sy gedoen het, is gebruik in haar boek, The South African Woman’s Guide to Self Defence. In die afgelope 10 jaar het haar skool vir selfverdediging, wat ook opleiding by skole aanbied, al 100 000 meisies in die Wes-Kaap afgerig.

Hier is Sanette se topwenke vir ouers en kinders:

  1. Intuïsie is jou sterkste wapen.  “As iemand jou ongemaklik laat voel – of dit nou iemand is wat jy ken, en of dit iemand op straat is wat vra vir water of kos – maak jou uit die voete.”
  2. Kies altyd die beste opsie vir jou spesifieke situasie. “Elke aanval is anders. Wat jy aanhet en waar en wanneer dit plaasvind, sal alles ’n rol speel. As die aanvaller ’n kommunikasietaktiek gebruik om met jou kontak te maak, kan jy jou uit die situasie praat. Maar as hy ’n direkte aanval kies, soos om in jou huis in te glip, moet jy aksie neem. Aksie is ook nie noodwendig om te slaan nie. As jy op die grond lê en sien daar is sand, gooi ’n handvol in sy oë.”
  3. Moenie naïef wees nie. Onthou die aanvaller is daar om jou skade te berokken en niks anders nie. Sanette sê een vrou met wie sy ’n onderhoud gevoer het, het haar vertel dat ’n inbreker by die huis ingeglip het terwyl sy besig was om wasgoed op te hang. “Toe die vrou hom in haar huis kry, sê hy vir haar sy hoef  nie bekommerd te wees nie. Hy wil net steel en sal haar nie verkrag nie, maar hy is senuweeagtig; daarom moet sy hom toelaat om haar vas te bind. Sy het ingestem, die man het die huis kaal gesteel en toe in elk geval teruggekom om haar te verkrag. Moenie toelaat dat so iemand jou om die bos lei nie. Neem onmiddellik aksie.”
  4. Gebruik al jou sintuie. “Ons sê altyd: Sien jy die twee mans op die straathoek wanneer jy kafee toe stap? Hoor jy die kar wat agter jou stilhou wanneer jy huis toe stap? Klink die voetstappe agter jou dalk vreemd? En wanneer daar iets in die huis omval, neem jy sommer aan dis die wind of maak jy jou reg vir die moontlikheid dat dit dalk ’n misdadiger kan wees? Maak seker jy word nie onkant betrap nie en let op na elke detail.”
  5. As jy geweld moet gebruik, gaan vir die sensitiewe dele. “Dit is die oë, die neus, die ore, die keel en tussen die bene. Jy kan ’n man lights out slaan met ’n harde skop tussen die bene – net genoeg tyd vir jou om weg te kom.”
  6. Gee jou kind toestemming om op te tree. “In baie gevalle voel kinders hulle gaan in die moeilikheid kom wanneer hulle lelik is met die oom wat hulle ongemaklik laat voel, of dat hulle raas sal kry wanneer hulle stories aandra oor die man wat by die sportterrein staan en die kinders dophou. Praat met hulle en maak seker jou kind weet dis sy werk om jou te kom sê van enigiets wat hulle ongemaklik maak.”
  7. Kry ’n noodplan vir aanvalle en oefen dit soos wat jy ’n noodplan vir ’n brand sal uitvoer. “Kry iemand wat die kind ken en vertrou om as aanvaller op te tree. Kies ’n kodewoord soos ‘Shrek’ of ‘Tom Cruise’, en maak seker die hele gesin weet wat hulle moet doen wanneer julle die woord gebruik. Maak veral seker jou kinders weet wat hulle moet doen tydens ’n aanval. Of dit nou is om by die venster uit te klim en na die bure te hardloop of na ’n telefoon bo in die huis te hardloop, maak seker die kind kom uit die pad sodat jy selfverdediging kan toepas.”
  8. As jou kind by is, kan jy nie mooi dink nie – maak dus seker jou kind verstaan hulle moet weghardloop en hulself beveilig as daar iets gebeur. Sanette sê ouers besef dit nie voor so iets gebeur nie, maar wanneer jy in gevaar is, kan jy net korrek optree wanneer jy weet jou kind is veilig.
  9. Onthou dat jy die voordeel van ’n verassingsaanval het. “Verkragters het al vir my gesê hulle beskou nie ’n vrou as iemand wat gaan terugbaklei nie, en wanneer ’n vrou wel terugbaklei, dink hulle nie dit is ’n bedreiging nie. As jy dus weet wat om te doen, het jy die oormag.”
  10. Moenie dink vegkuns is genoeg nie. Sanette sê in die selfverdedigingsopleiding, wat slegs ’n middag duur, leer hulle vroue veel meer as om te skop en te slaan. Hulle leer jou van die taktiek wat ’n aanvaller volg, wat dalk kan gebeur in so ’n aanval, en hoe om op jou voete te dink. Dit is beskerming selfs vir dié wat nie fiks is nie en enigiemand kan dit leer.

Klik hier vir meer inligting oor Sanette se werkswinkels.

Kyk ook hier na 'n video van Sanette se selfverdedigingstegnieke.

- Dalena Theron