Die produkreeks WriteRight® help kinders leer skryf. Die produkte, ’n soort handskrif-noodhulpkis, bestaan uit ’n houtbordjie met groewe in die vorm van letters en syfers. Kinders gebruik dan ’n “blinde” potlood (’n houtpotlood sonder lood) om die vorm van die letters en syfers te oefen. Jong kinders kan selfs van meet af aan leer hoe om ’n potlood op reg vas te hou, ongeag of die kind links of regs is.

Die meeste van WriteRight se produkte is hulpmiddels wat handskrif aanleer en inoefen, en dit kan ook gebruik word as ’n leerder se handskrif remediëring kort. Die reeks is gemik op kinders tussen vier en nege jaar en bestaan uit byna 300 verskillende produkte.

Die idee vir die WriteRight-produkte het sowat drie jaar gelede ontstaan toe ’n ander opvoedkundige produk ontwikkel is, vertel Karen Speight, wat die reeks help ontwikkel het. “Dit vul ’n leemte in handskrif-ontwikkeling waarvoor daar nie voorheen betroubare hulpmiddels beskikbaar was nie,” sê Karen.

Hoewel soortgelyke produkte dikwels ingevoer is, het dit nie aan die Suid-Afrikaanse leerplan voldoen nie, aangesien die riglyne in die buiteland van ons s’n verskil. Boonop word ál die produkte in die reeks in Suid-Afrika ontwikkel en vervaardig.

Al die WriteRight-produkte voldoen aan Caps-riglyne (die nuwe leerplan) en is met behulp van spesialiste in grondslagfase-onderwys en arbeidsterapeute ontwikkel. “Dat amper elke skool, kleuterskool en terapeut wat met WriteRight te doen gekry het, die produkte aanskaf, is ’n klinkklare bewys dat dit ’n noodsaaklike produk is,” sê Karen.

Die produkte gaan ook aanstaande jaar na Engeland en Australië uitgevoer word.

“Wat lekker is van dié produkte, is dat kinders dit nie as ‘werk’ beskou nie. Hulle pak dit met selfvertroue aan omdat daar nie regtig kans is dat hulle kan fouteer nie,” meen Karen.

Pryse wissel van R49 tot R500, na gelang van die produk of stel produkte en kan landswyd aangekoop word. Besoek www.write-right.co.za vir nog inligting.