Hier’s ‘n paar wenke om gesond te leef:

Vesel help boepie bestry

Dit is geen grap om ’n boepmaag te hê nie.

Maagvet, ook bekend as ingewandsvet, is ’n gevaarlike soort vet, want dit kan hormone vervaardig wat al met ’n aantal chroniese siektes soos diabetes en hoë bloeddruk verbind is.

Benewens gereelde oefening kan meer oplosbare vesel in jou diet jou maagvet help afskud, sê navorsers aan die Wake Forest Baptiste Mediese Sentrum in Amerika. Van die kosse met volop oplosbare vesel is hawersemels, appels, bruinrys, rogbrood, ertjies en bone.

Eet appelkose en ontspan

Wie sou kon raai droëappelkose is natuurlike stresbestryders?

Hulle is propvol magnesium, ’n mineraalsout wat stresvlakke help verlaag, want dit hou die senuwees gesond en help die liggaam se spiere ontspan.

Appelkose is ook ’n goeie bron van vitamien C en gee daarom jou immuunstelsel ’n hupstoot. Sorg dat hulle op jou inkopielys is.

Water is goed vir die bloeddruk

Hier is nog ’n rede waarom jy elke dag genoeg water moet drink: Vier of meer glase water per dag kan keer dat jy in die toekoms hoë bloedsuiker en diabetes ontwikkel, sê navorsers aan die Bichat-hospitaal in Parys, Frankryk.

Hulle is nie seker waarom nie, maar dit behoort jou steeds aan te moedig om elke dag genoeg water te drink.

Vorige navorsing het ook al gewys water kan jou gelukkiger maak, want depressie en moegheid is dikwels simptome van ontwatering.

Volg Huisgenoot op Twitter.