BY DIE voordeur van die huis by Danabaai in Mosselbaai loop jy jou in ’n muur trofeë vas. En een van hulle staan vir die heel eerste keer in die geskiedenis op Suid-Afrikaanse bodem.

Dis die Ladies European Tour Henderson-trofee vir die grootste geldwenner in die Europese vrouereeks wat ons eie gholfster Lee-Anne Pace uit Doebai huis toe gebring het. Sy het dit vroeg verlede maand ná die laaste ronde van die Doebai-meesterstoernooi ontvang nadat sy in 2010 sowat R3 miljoen met haar gholfstokke verdien het.

Nie net is die 29-jarige blondekop die eerste Suid-Afrikaner wat met hierdie trofee bekroon is nie; sy is ook deur haar medespelers as speler van die jaar gekies.

Nou het sy haar suksesvolle jaar op die gholfbaan by haar ouers kom vier wat in die Suid-Kaap boer.

Teen die muur hang ’n koerantplakkaat met die woorde: ‘‘Suid-Kaap: Nóg 'n gholfheld.’’ Want Louis Oosthuizen, wat verlede jaar die Britse Ope-kampioenskapstoernooi gewen het, is nes Lee-Anne lid van die Mosselbaai-klub. Hy het haar ook met haar prestasie gelukgewens.

Die reaksie op haar eerbewys was oorweldigend. Dis vir haar ongelooflik dat Gary Player en Ernie Els, gholfsterre na wie sy opsien, haar soveel lof toeswaai.

‘‘Toe ek nou daar op die verhoog staan en hulle oorhandig die trofee aan my, sê hulle daar is ’n paar boodskappe,’’ vertel Lee-Anne van haar groot aand in Doebai. ‘‘Ek dog toe dis van my familie en vriende, maar toe kom Gary Player se stem en hy sê hy wens ek was sy dogter. Ek het sommer begin huil.’’

Ernie, haar groot held en bron van inspirasie, was volgende aan die beurt. “Net omdat die paaie van die mans en vroue in beroepsgholf so selde kruis, beteken dit nie ons ouens weet nie wat op jul skoonvelde aangaan nie. Dit gee my groot plesier om jou prestasies vanjaar te erken en baie geluk te sê vanuit Suid-Afrika.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 6 Januarie 2010