DIE donkerkopman bad sy baba se poplyfie, kam haar bos donker hare en gee haar ’n bottel terwyl hy haar teer dophou.

“My gorgeous,’’ sê hy.

Dis sowaar Nicky van der Walt (30) dié, tot onlangs nog ’n onverskrokke polospeler en seker die aantreklikste oujongkêrel in die land. Maar nou lyk dit asof sy hart smelt wanneer Gia, sy mooi meisiekind, hom stip in die oë kyk.

En hoe kan klein Gia dan nie mooi wees nie as Lee-Ann Liebenberg (28) haar ma is – die smeulende model wat al as die sexyste vrou in die land aangewys is?

Terwyl die ouerpaar oor hul baba koer, vergaap jy jou behoorlik aan soveel skoonheid. Gia het ’n volmaakte gesiggie, en kyk jy so na haar Dior-wiegie, weelderig uitgevoer in sy, sien jy sommer dié kleinding is ’n regte prinsessie vir wie net die beste goed genoeg is. Soos die duur Baby Dior-reistas waarin ’n spoggerige wit ontwerpersuitrusting gepak is.

Dié uitrusting is maar net een van vele ander wat nou ingepak in bokse gereed staan vir die gesin se trek van Parkhurst na Sandton. Die kleinding se klere is meestal in eksotiese bestemmings soos St. Tropez, Monaco, Parys en Londen gekoop.

En soos dit hoort, kry die prinsessie nou ook haar eie kasteel. Die gesin se nuwe huis is die oorspronklike opstal van die plaas Zandfontein, waar Sandton vandag is.

“Dis ’n gesinshuis met ’n groot tuin vir Gia,’’ vertel Nicky. “Die huis se gewels is 174 jaar oud, en daar is 12 jakarandabome. Die babakamer is versier met ingevoerde Ralph Lauren-muurpapier en daar is ’n antieke Franse bababedjie. Ons is bevoorreg dat ons hierdie dinge vir haar kan gee.’’

Gia se naam beteken God se genade. “Dit is ’n verstommende genade dat sy in ons lewe gekom het,’’ sê Lee-Ann. “Ek kan my nie die lewe sonder haar voorstel nie.’’

Maar sy gaan nie ’n alleenkind wees nie. Hulle wil hul gesin sommer dadelik aanvul.

“Ons hoop om eendag drie kinders te hê,’’ sê die trotse pa.

Lees die volledige artikel en sien pragfoto's in die Huisgenoot van 6 Januarie 2010