Vir derduisende Suid-Afrikaners is sy die vrou wat soggens as nuusleser die wêreld in ons sitkamers inbring. Maar dis ’n heel ander Leanne Manas wat ons vandag voor ons sien, skoon aan’t vermurwe terwyl sy na die mensie op haar skoot kyk.

Die aanbieder van Morning Live se gunsteling-onderwerp is deesdae haar vier maande oue Alexandro, en daar is geen teken van die vrou wat die politici so kan peper met taai vrae nie.

Die 35-jarige TV-ster is in volle mamma-modus – en sy het Huisgenoot gekies om haar bondeltjie vreugde aan die wêreld voor te stel. En dis nie net Alexandro se eerste fotosessie nie, maar sommer ook die eerste keer dat Leanne haar huis wys.

Sy en haar man, Marc Menelaou, het in Augustus verlede jaar hier ingetrek, ’n paar maande ná ’n traumatiese rooftog in hul vorige huis in Northcliff, Johannesburg. Leanne is destyds vasgebind en beroof terwyl ’n vuurwapen op haar gerig is. ‘‘Dit was aaklig,’’ sê sy amper fluisterend.

Sy wil nie bekendmaak waar hulle nou woon nie, maar sy praat graag oor haar nuwe huis.

‘‘Een van die beste dinge is die veiligheid,’’ sê sy. ‘‘Dis so rustig hier, en gesinsvriendelik. Jy sien heeltyd kinders in die strate en die park speel. Dis waarlik voorstedelik, amper soos Wisterialaan van Desperate Housewives, maar net sonder die mal mense!’’

Dis nog ’n rukkie voor Alexandro saam met die buurt se kinders sal rondhardloop, en vir eers is hy doodgelukkig in sy ma se arms.

‘‘Hy het so ’n mooi geaardheid,’’ sê Leanne en vee ’n nattigheid van sy ken af.

‘‘Hy is ’n baie soet baba en hy huil nie sonder rede nie, maar sjoe, daardie humeur! Hy weet wat hy wil hê. Met dié dat hy ’n Leeu is, het hy ’n lekker brulletjie.’’

Lees meer oor Leanne se klein Alexandro en haar huis in Huisgenoot van 14 Januarie.