Op 18 Mei 2013 is die land verpletter met die nuus dat Vuyo Mbuli aan ’n hartaanval gesterf het. Drie jaar later kan Leanne Manas, sy mede-aanbieder op Morning Live, nog steeds nie glo hy’s weg nie. “Jy word elke dag gemis. #3yearstoday,” het Leanne in ’n roerende huldeblyk aan haar wyle vriend op Instagram by ’n foto van Vuyo geskryf.

You are missed everyday! #3yearstoday

A photo posted by Leanne Manas (@leannemanas) on

“Morning Live is destyds bekendgestel met Vuyo Mbuli en ek het in 2004 aangesluit,” het die SABC-ankeraanbieder aan Huisgenoot gesê.

Baie mense het vir haar gesê dit gaan nie maklik wees om met Vuyo Mbuli te werk nie – hy’s uitgebeeld as ’n moeilike man om mee te werk met onmoontlike hoë standaarde, en as een van die moeilikste mense om oor die weg mee te kom. Dit kon egter nie verder weg van die waarheid wees nie.

“Vanaf die eerste dag wat ek saam met Vuyo gewerk het, het ek niks daarvan ervaar nie. Hy was ’n plesier om mee te werk en het my verwelkom,” sê Leanne.

Vuyo (46) het ineengestort terwyl hy ’n rugbywedstryd tussen die Cheetah en die Reds by die Vrystaat-stadion in Bloemfontein gekyk het.

Huldeblyke het van oral ingestroom, onder meer van die president en aartsbiskop-emeritus Desmond Tutu wat albei sy dood as ’n groot skok vir Suid-Afrika beskryf het.

“Dit was een van die program se moeilikste oomblike in die geskiedenis,” sê Leanne. “Dit was ’n baie moeilike proses vir die Morning Live-span om deur te gaan, maar soos Vuyo altyd gesê het: ‘Die lewe gaan aan.’ Ons het hom nooit probeer vervang nie omdat ons weet daardie skoene is te groot om te vul.”

Die band tussen hulle het verder as die stel van Morning Live gestrek. “Ons het alles saam gedoen. Ons het selfs as ’n span onderhandelings oor ons kontrakte bygewoon, en die bestuur was nie mal daaroor nie, maar ons het nie omgegee nie,” vertel Leanne laggend.

Drie jaar ná die tragedie is dit Vuyo se professionalisme en sin vir humor wat Leanne die meeste mis.

“Hy’t altyd ’n grappie of twee vertel en almal laat lag. Daar het nooit ’n dag verbygegaan wat ek nie iets by Vuyo geleer het nie.”

- Mabale Moloi

Lees ook op Huisgenoot.com:

Straler met 66 passasiers aan boord ‘stort neer’ in Middellandse See

Barmhartige Samaritane trotseer vlamme om man van gewisse dood te red

‘Sy is so opgewonde!’: Supermodel verklap geslag van eersteling

Twee mynwerkers steeds vasgekeer nadat skag by Rustenburg ineenstort

Bekende Afrikaanse sanger vir die soveelste keer op moedverloor se vlakte