Die voormalige ster van Binnelanders, ook bekend vir haar romantiese rolle in Mooirivier en Strikdas, laat boewe behoorlik les opsê in haar nuwe aksiebelaaide fliek, Jagveld.

Dié heldin is duidelik nie bang om haar hande vuil te maak nie en moker ’n groep gewentenlose misdadigers goed op.

Haar karakter, Emma le Roux, is beslis geen hulpelose meisie wat deur ’n "groot sterk man" gered moet word nie. Sy skrik nie vir koue pampoen nie en is ’n sterk vrou waarna vroue en meisies van alle ouderdomme kan opsien, meen die vervaardigers.

Die storie van Jagveld draai om Emma, ’n laerskool-onderwyseres, wat op pad na haar familieplaas in die Groot Karoo op ’n moord afgkom.

Die moordenaars gewaar haar en die res van die rolprent moet sy verbete baklei om uit hul kloue te bly. Hulle dink sy is ’n maklike teiken; ’n prooi waarmee hulle gou-gou kan klaarspeel. Maar die jagtog op Emma verloop glad nie soos hulle beplan het nie.

Neels van Jaarsveld en Edwin van der Walt is van Leanie se medespelers in die prent.

Kyk hier na ’n lusmakertjie: