Laurika Rauch is nie net op die oomblik op die planke met haar musiekblyspel Stuur Groete aan Mannetjies Roux nie. Sy werk tussendeur aan ‘n CD met liedjies uit die Mannetjies-blyspel.

Laurika sing drie liedjies op die kompilasie-album: Laurika Rauch sing die liedjies uit Stuur Groete aan Mannetjies Roux.

“Dit was maar die tweede keer dat ek saam met haar werk, en sy is ‘n liéf-li-ke mens,” jubel Rikus, wat die konsertina op die nuwe CD laat sing.

Rikus, wat ‘n hele verskeidenheid instrumente bespeel, tokkel ook die banjo en die “pedal steel” op Laurika se nuwe album. Laasgenoemde is ‘n instrument wat hy in Nashville in Amerika gekoop het.

Aanvanklik was hy op sy senuwees op saam met so ‘n groot gees soos Laurika te werk, maar, sê hy, sy is kalm en rustig en hulle lag lekker saam.

(En hy verklap dit gaan dit nog goed tussen hom en sy vriendin Liza Brönner, maar van trou is daar nog nie sprake nie. “Julle sal seker op Facebook sien as ek die dag verloof raak!”)

Intussen vertel Laurika sy sing nie self al haar liedjies in die musiekspel nie. “Daar is pragtige sangers in die produksie wat hulle eie stempel op die liedjies plaas.”

Die CD word Vrydag vrygestel saam met die opening van die musiekspel.

Paul Eillers is die regissseur en in die rolverdeling is name soos Deon Lotz, Isadora Verwey, Ilse Klink, Nicole Holm en Eben Genis.

Janine Neethling behartig die musikale regie.

Stuur Groete aan Mannetjies Roux is in die Atterbury-teater in Pretoria vir drie weke en toer daarna Kunstekaap toe. Kaartjjies is beskikbaar by Computicket.