Frankryk word as een van die mees romantiese bestemmings ter wêreld beskou waar die liefde altyd seëvier.

Maar ’n tennisspeler het Dinsdag op die harde manier hier ’n les geleer. Hy het geleer daar is ’n verskil tussen ’n welkome soen en om deur onwelkome aandag van jouself ’n laspos te maak.

Die Franse tennisspeler Maxime Hamou (21) het nie net sy eerste ronde tydens die jaarlikse Franse Ope-toernooi in skoon stelle op Roland-Garros verloor nie; hy is summier geskors nadat hy sy soenerige vatterigheid te ver gevoer het.

Die voorwerp van sy ongewenste aandag, die Eurosport-joernalis Maly Thomas, het die voorval as onaangenaam beskryf en het luidens berigte gesê sy sou hom gemoker het as dit nie tydens ’n regstreekse uitsending plaasgevind het nie.

In die video kan ’n mens sien hoe Maxime haar telkemale betreklik intiem probeer soen. Sy deins weg en probeer om die onderhoud te voltooi. Maar daardie dwalende hand was die laaste strooi.

Maly het haar sonder veel seremonie onder die grinnikende Maxime se seekatgreep uitgewikkel. Ons vermoed haar geregverdige weerstand teen sy “oorvriendelikheid” moes sy ego ’n kishou toegedien het.

Die Franse tennisfederasie het Maxime se gedrag as “verwerplik” beskryf. Eurosport het ook ’n stuiwer in die armbeurs gegooi en dit as hoogs onvanpaste gedrag jeens ’n gerespekteerde joernalis bestempel.

Die legendariese tennisspeler en korrespondent vir Eurosport, Henri Leconte, het aanvanklik gedink die petalje is vermaaklik en het Maxime toegejuig. Hy het egter later ’n verklaring uitgereik en verskoning gevra.

“Ons regstreekse reaksie was ook nie van pas nie. Ons moes vinniger ingegryp het. Ons vra verskoning aan ons kykers,” lui ’n gedeelte van die verklaring.

Daar was nie teruggehou met kritiek op Maxime se gedrag nie. Vrae word gestel oor sport se houding jeens vroue. Wat ook in die sosiale media opgeduik het, is ’n bewering dat Maxime in die “normale wêreld” in die hof sou verskyn op aanklag van seksuele aggressie.

Laura Flessel, die Franse minister van sport, het die volgende op Twitter gedeel: “Nee, ’n regstreekse aanval is nie snaaks nie. Moet nooit sulke dade banaal maak nie.”

Maxime wil die joernalis glo nou verskoning vra. Hy sê sy optrede spruit uit sy geesdrif wat hy onbehendig teenoor Maly uitgedruk het.

“Ek leer uit my foute om ’n beter tennisspeler en ’n beter mens te word.”

Bronne: independent.co.uk, cbssports.com, euronews.com