’n Regter van die stad New York City het ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die rapper Azealia Banks uitgereik nadat sy nie Maandag vir ’n hofverskyning opgedaag het nie. Die 25-jarige word daarvan beskuldig dat sy langer as ’n jaar gelede by die nagklub Up&Down in Manhattan op ’n vroulike uitsmyter gespoeg en haar gebyt het.

Sy was veronderstel om die week te begin met ’n hofverskyning om die saak in hersiening te neem.

Maar toe sy nie Maandag opdaag nie, het regter Kathryn Paek ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik, berig Page Six.

Azealia se prokureur het glo aan die regter gesê sy kliënt is in die buiteland en het ’n briefie van die rapper voorgelees waarin sy sê sy kan “môre terug wees, indien die hof dit verlang”.

Die regter van Manhattan se strafhof was nie beïndruk nie en het die lasbrief uitgereik.

Die hof het ’n nuwe, gratis prokureur namens Azealia aangewys nadat haar privaat prokureur versoek het om aan die saak te onttrek.

Azealia was al voorheen by die landdros in die sop. Sy was veronderstel om in September in die hof te verskyn, maar het nie opgedaag nie nadat sy na bewering haar vlug van Los Angeles na New York verpas het.

Die rap-ster het ’n nuwe hofdatum in November in Manhattan gekry toe die voorsittende regter haar maan sy kan tronkstraf kry as sy nie vir die volgende verhoor opdaag nie.

Azealia word beskuldig van aanranding, poging tot aanranding en wanordelike gedrag ná haar beweerde aanval op die uitsmyter. Luidens berigte het die 212-rapper briesend geraak toe personeel van die klub haar nie herken nie. Intussen maak Azealia se wispelturige gedrag die afgelope maande opslae – om al die verkeerde redes. Sy het einde Januarie in die sosiale media in ’n vete met die Barbadaanse sangeres Rihanna betrokke geraak oor Amerika se pres. Donald Trump se sogenaamde verbod op Moslems.

En die kantoor van die distriksprokureur van Los Angeles het haar hofsaak teen Russell Crowe, waarin sy die Australiese akteur daarvan beskuldig het dat hy in Oktober op ’n partytjie in Beverly Hills op haar gespoeg en haar neerhalende name toegesnou het, net voor Kersfees uitgegooi.

© Cover Media