Die baasspeurder gaan nie weer uit hierdie bed uit opstaan nie. Hier in die Life Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort is hy in ’n diep slaap.

Sy eie reeksmoordenaar het die oorhand gekry. Dit is die enigste swerkater wat Piet Byleveld (66) nie ore kon aansit nie.

[caption id="attachment_173947" align="alignnone" width="600"]Foto Argief Foto: Papi Morake Foto Argief Foto: Papi Morake[/caption]

“Dit gaan ’n wonderwerk verg om vir Piet hier te sien opstaan,” sê sy vrou, Elize (57).

Elize, haar dogter, Virnalize Welthagen, en dié se man, Christian, waak by Piet se bed.

“Dit is net ’n kwessie van tyd voor hy die stryd verloor,” sê Elize emosioneel.

Die bos hare wat Piet altyd netjies gedra het, is nou weg weens die nege chemo-behandelings wat hy sedert Maart ontvang het. Net ’n paar yl grys hare is oor.

Sy bekende snor het ook soos ’n voortvlugtige verdwyn.

Daar is niks oor van die speurder wat eens vrees in die hart van skurke ingeboesem het nie.

Dinsdag 16 Mei het Piet swakker begin raak. Elize het gedink hulle sal weer huis toe kom, maar ná sy toelating het dokters nie veel hoop gehad dat hy ooit weer uit die hospitaal sou kom nie.

Die fasevier-longkanker wat by Piet spook, het na albei sy longe versprei. Met Huisgenoot se laaste besoek aan Piet in April, het die kanker reeds na sy rugstring, byniere en lewer versprei.

“Ek het hierdie week die eerste keer voor hom gehuil,” vertel Elize.

“Ek wou dit wegsteek. Hy het vir my gesê: ‘Jy kan maar huil, liefie. Dit is al manier hoe jy ontslae kan raak van die emosies.’

“Ek wou nie. Ek wou sterk bly vir Piet se onthalwe.”

Maar die vrou agter hierdie man staan nog sterk. Sy verlaat haar man se bed nie vir ’n sekonde nie.

Hier langs Piet se sterfbed heers daar ’n oomblik van stilte. Die speurder lê op sy rug, sy asemhaling onreëlmatig en diep.

“Dit is die emfiseem wat veroorsaak dat Piet nie asem kry nie,” sê Elize.

Piet moes reeds in April gereeld suurstofhulp ontvang, en nou is die pypies permanent aan sy neus gekoppel.

“Toe ek die dag hoor ek het kanker, het ek skielik gevoel soos ’n misdadiger oor wie die doodsvonnis uitgespreek is; my eie doodsvonnis,” het Piet in die laaste onderhoud met Huisgenoot gesê (Verkort, ons mooi toekoms, 20 April).

Sy rasperige rokerstem is sedert Vrydag stil.

“Hy het nog Vrydag bietjie gepraat en gister (Saterdag) was sy oë nog oop gewees, maar hy was nie vandag (Sondag) een keer wakker nie,” sê Elize.

Sy het sedert Dinsdag, toe hy in die hospitaal toegelaat is, nog nie sy sy verlaat nie. Die hospitaalpersoneel het ’n russtoel vir Elize ingebring sodat sy in die aande langs sy bed kan slaap.

“Hier is ook ’n lekker privaat badkamer waar ek kan stort. Virnalize sal vir my skoon klere en kos bring. Hulle is baie ondersteunend.”

Christian sê nie ’n woord nie. Hy sit vasgenael en kyk na die speurder wat die een uitmergelende asemteug ná die ander gee.

“Dit is vir ons almal bitter moeilik om te hoor daar kan niks meer gedoen word nie en ons moet net sit en wag,” sê Elize.

“Ons weet nie wanneer sy einde gaan wees nie. Die dokters sê dit kan môre gebeur, maar hulle voorspel dit sal nie langer as ’n week wees nie.

“Dit is verskriklik. Piet het so te sê net ’n week oor om te lewe, dan is ons lewe saam kortgeknip.”

Piet en Elize het voor die nuus oor die kanker nog groot planne gehad.

“Ek het gedink daar wag nog ’n mooi toekoms op my en Elize,” het Piet destyds aan Huisgenoot gesê.

[caption id="attachment_173949" align="alignnone" width="600"]Foto Argief Foto: Papi Morake Foto Argief Foto: Papi Morake [/caption]

“Al die dinge wat ons beplan het, is net so kortgeknip. Noudat ek geluk gevind het, word dit van my af weggeneem.”

Die hospitaalpersoneel bring ’n groot fles koffie.

“Daar’s hy, Ma, nou het Ma genoeg koffie vir die hele aand,” sê Virnalize sagmoedig.

Elize gaan sit langs Piet en hou sy hand styf vas.

“Ek weet hy kan ons nog hoor. Toe een van sy kollegas van moord en roof hom in die week kom groet het, het die man hom ’n yster genoem. Piet se oë het dadelik oopgeskiet toe hy daai woord gebruik.”

Een van Piet se oudkollegas kom ook by saal vyf afskeid neem. Yolinda Freimond en haar 15-jarige dogter, Noelle du Plessis, het kom groet.

Sy was een van die aanklaers in die berugte Wemmerpan-moordsaak.

“Sowat 18 maande het ek en Piet ’n hofsaal gedeel,” sê sy.

Die sogenaamde Wemmerpan-moordenaar, Cedric Maake, het 27 moorde tussen 1996 en 1997 gepleeg. Hy is eindelik 27 keer lewenslange tronkstraf opgelê, asook 1 159 jaar en drie maande.

Yolinda lag. “Daai ekstra drie maande was alles Piet gewees.

“Jy kon hom in die getuiebank sit en alles glo wat by sy mond uitkom. Hulle het ’n patroon by hom gekry en Piet het geweier dat dit ongesiens gaan.

“Cedric is toe ook aangekla vir die onwettige besit van ammunisie en het toe nog drie maande by sy stewige vonnis gekry,” vertel sy.

Haar dogter, Noelle, vra of sy ’n oomblik alleen met oom Piet kan kry.

“Kolonel,” sê Yolinda.

“Noelle is hier om jou te groet.”

Hy lê steeds roerloos. Net die diep asemteue. Ná die tyd vertel Noelle met rooi oë van oom Piet.

“Ek het hom laas twee jaar gelede gesien toe ek aan Little Miss SA deelgeneem het. Hy het my en my sibbes altyd patrone genoem.”

Piet het die vorige keer teenoor Huisgenoot gebieg: “Ek mis my loopbaan verskriklik baie. Daai kruisverhoor van die advokate in die getuiebank; die druk wat ek ervaar het. Ek was mal oor die druk,” het hy destyds gesê.

“Daar sal nooit weer ’n speurder soos Piet wees nie,” sê Yolinda.

“Hy was en is een op sy eie.”

Elize gaan sit weer langs Piet.

Haar tasse staan in die hoek van die saal. Sy bly nou as’t ware hier in die hospitaal by Piet.

“Ek sal vir hom die son, die maan en die sterre gee. Enigiets. Ons lewe is kortgeknip, maar dit was besonders gewees om saam met hom te wees,” sê sy.