DSCN0584

Vir die meeste langafstandatlete is ’n marathon van 42 km of ’n ultramarathon soos die Twee Oseane- of die Comrades-marathon baie ver om te hardloop.

Maar nie vir Johan van der Merwe (41) van Polokwane nie.

Johan geniet dit om sommer baie ver te hardloop.

Dié sakeman het die afgelope naweek die tweede Suid-Afrikaner geword wat meer as 250 km binne 24 uur hardloop nadat hy die Soochow Internasionale ultramarathon in Taipei voltooi het met 258,063 km agter sy naam. Met dié afstand het hy die legendariese Wally Hayward se 60 jaar oue Suid-Afrikaanse rekord van 253 km binne 24 uur aan flarde gehardloop. Hy het ook die Afrika-rekord van 257 km oortref.

Hoe kry hy dit reg? Deur “aanhoudend te bid en wiskunde in jou kop te doen”. Ja, jou bene word seer en jy word moeg, maar “jou kop kan baie meer vat nadat jou liggaam al gedreineer is”.

Dié langasem sê hy is van nature baie mededingend en probeer altyd ’n rekord verbeter. Daarby, nadat jy 100 km gehardloop het, “gaan die res van die wedloop oor jou kop en hoe sterk jou kop is”.

“Jou liggaam kan ongelooflik baie vat, maar dit gaan oor wat jou kop vir jou sê,” sê Johan.

Johan se hardlopery het in 2000 begin toe hy ’n drinker en ’n roker was en die skaal op 87 kg getrek het. Binne ses maande het hy 26 kg verloor.

Aan die begin was sy fokus die Comrades-marathon, maar dié was nooit ’n lekker wedloop nie omdat hy altyd met iets gesukkel het. Hy was so gefrustreer in 2011 dat hy dit oorweeg het om sy tekkies op te hang “want ek het nie dit uitgekry wat ek in die hardlopery ingesit het nie”.

’n Vriend het toe voorgestel hulle neem deel aan ’n wedloop waar jy 12 uur om ’n grasbaan hardloop. Hy het in die rekordboeke gesien die verste wat iemand al gedoen het, was 120 km. Dit het vir hom maklik gelyk. Hy het ’n paar keer op ’n grasbaan gaan hardloop en drie maande en 139 km later, was die rekord in sy sakkie.

Die ultramarathons het hom ál meer aangestaan. Die volgende was die Golden Reef 100 Miler in die Krugersdorp-natuurreservaat. Hy het dié wedloop gewen. Daarna het hy elke 100-myler waaraan hy deelgeneem het, gewen en soms nog die rekord ook oortref.

Begin vanjaar het Johan besluit om Wally Hayward se rekord, wat hy in 1953 in Brittanje opgestel het, te verbeter. In Maart vanjaar het hy die rekord met 3 km misgeloop. Toe kom die geleentheid in Taipei.

Noudat hy sy doel bereik het, wat is volgende? Om die rekord van 1028 km in ’n wedloop oor ses dae te oortref.

“Ek het een ding wat in my guns tel, en dit is dat ek nie goed slaap nie. So wakker bly is nie ’n probleem nie,” skerts Johan.

- Hilda Fourie