Jeandré Janse van Nieuwenhuizen, onder sy vriende bekend as Fiefie, het Sondag, tien dae ná sy 20ste verjaardag in ’n motorongeluk gesterf.

Jeandré, ’n oudleerder aan die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas, was sedert Januarie ’n ingeskrewe student by die Grootfontein Landboukollege op Middelburg in die Oos-Kaap. Hy was ’n veelsydige student wat op die sportveld sowel as op die planke uitgeblink het.

Hy het onder andere verlede jaar ’n rol vertolk in die verhoogweergawe van Vaselinetjie onder regie van Shirley Ellis. Dié toneelstuk is by die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Toneelfees opgevoer.

Jeandré was een van 12 ontluikende jong akteurs wat die verhoog met gesoute 7de Laan-akteurs Andrea Streso, Ingrid Paulus, Theodore Jantjies, Werner Coetser en Suidooster se Cedric Joel gedeel het.



So word Jeandré onthou

Een van sy studentemaats, Jeanette Hermann, het ook hulde aan Jeandré gebring. Daarin sê sy onder meer die volgende: “Alles wat jy gedoen het, het jy met volle oorgawe gedoen. Jy kon my humeur in die rooi op-rev, maar jou hart was nog altyd op die regte plek en het ek geweet jy toets my net. Dinge gaan beslis nooit weer dieselfde wees nie; dit gaan altyd voel iemand kort . . . Sien dinge in wit en swart, dink in grys en laat jou liefde kleurvol wees . . .”


Bronne: sun.ac.za, graaffreinetadvertiser.com