Dit was asof die slegte jare uiteindelik op ’n einde was. Beleggers het stadig na Haïti begin terugkeer, die ekonomie het met 2,5 persent gegroei, wêreldwye resessie ten spyt, en die buiteland het biljoene dollars se skuld afgeskryf.

Herbouwerk was aan die gang aan die land se infrastruktuur – verinneweer deur die natuurrampe en burgeroorloë wat so kenmerkend van sy wanordelike geskiedenis is – en die burgers het vir die eerste keer in dekades weer in ’n mooi toekoms begin glo. Maar die kragtigste aardbewing in die onlangse geskiedenis het daardie geloof binne ’n enkele rampspoedige minuut uitgedoof.

Haïti word nou die land van die verdoemdes genoem. Lyke hoop in die strate op, dokters opereer sonder verdowing op straat, oproerige bendes buit wat hulle in die hande kan kry en hordes haweloses bedel water in die versengende hitte.

Die Karibiese land het die middelpunt van die hel geword – en volgens alle aanduidings sal die situasie vererger voor dit verbeter. Die dodetal kan tot 200 000 styg en die reuse omvang van die ramp oorweldig mediese beamptes en noodwerkers.

Hulle hou nou asem op vir siektes wat in die verpletterde hoofstad, Port-au-Prince, kan uitbreek namate lyke in die tropiese son ontbind, terwyl tydelike hospitale nie meer die mas opkom met die beseerdes wat voortdurend instroom nie.

Grusame beelde van lyke wat die strate vol lê omdat lykhuise oorloop, het die wêreld stil van skok gelaat. Een van die kosbaarste besittings in Port-au-Prince is trouens tandepasta – oorlewendes smeer dit aan hul bolip om die reuk van die dood te probeer verdryf.

Die aardbewing wat Haïti op 12 Januarie in ’n chaos gedompel het, het 7 op die Richterskaal gemeet en was Moeder Natuur op haar ergste.

“Sover die Verenigde Nasies kan onthou, het ons nog nooit so ’n ramp gesien nie. Dis soos geen ander nie,” het Elisabeth Byrs, woordvoerder vir die VN-kantoor vir die koördinasie van humanitêre sake, gesê.

Niks en niemand was hierop voorbereid nie. Die presidensiële paleis, eens die trots van Port-au-Prince, het in duie gestort en pres. René Préval slaap nou in sy motor.

Die VN se gebou in die hoofstad is ook vernietig en verskeie beamptes is dood. Die Katolieke katedraal het ook soos ’n pak kaarte ingetuimel en van die kerk se ampsdraers het omgekom.

Met dagbreek op die eerste Sondag ná die ramp het mense buite die verwoeste katedraal bymekaargekom om te aanbid. “God het ons nie vergeet nie,” het een gesê.

Maar toe ’n volskaalse aardbewing van 6,1 op die Richterskaal die land te midde van talle naskokke agt dae later weer tref, sou die inwoners sekerlik kon wonder: Wat het ons gedoen om dit te verdien?

Lees meer oor hierdie ramp in die Huisgenoot van 28 Januarie 2010.

Wat dink jy van hierdie natuurramp? Of weet jy dalk van iemand wat in Haiti is om daar te help? Deel jou mening in die kommentaarveld hieronder.