Conrad Strydom, ’n leerder aan Hoërskool Hermanus in die Wes-Kaap, is Woensdagaand deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, aangewys as die land se toppresteerder.

Hy beplan om teoretiese fisika aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer en eendag homself as ’n fisikus te bekwaam.

"Ek voel regtig geëerd, trots en opgewonde oor hierdie prestasies," het Conrad gesê.

"In my geval was dit harde werk. Ek het hard deur die loop van my skoolloopbaan gewerk en elke dag iets ingesit. Ek het hard in die klas gewerk en by die huis hersiening gedoen. Ek het ook jare lank oor naweke en vakansies geleer," het Conrad bygevoeg.

Conrad was ook ’n lid van sy skool se studenteraad wat hom gehelp het om sy tyd beter te bestuur. Hy kon weens sigprobleme as kind eers op agtjarige ouderdom begin lees.

Buiten sy posisie as Suid-Afrika se topmatrikulant, was Conrad ook die topstudent in die afdeling vir kwintiel 5-skole oor die land heen, sowel as in wiskunde.

Sy alma mater kon ook nie hul opgewondenheid beteuel nie.

"Voorwaar uitstaande! As ’n skool en ’n gemeenskap kan ons so trots wees. Baie geluk aan almal! Hierdie was ’n spanpoging. Wat ’n voorreg om deel te wees van hierdie fantastiese skool. Baie geluk, Conrad. Welgedaan, Hoërskool Hermanus! Hermies bo!" het sy skool op hul Facebookblad geskryf.

Was jy vanjaar in matriek? Kry jou uitslae hier.

Bron: News24