Maandag het ’n federale regter, Christopher Cooper, beslis hul eis van byna R1,3 biljoen teen Lance kan verder gevoer word. In sy uitspraak het hy gesê die Amerikaanse regering het bewys gelewer dat Lance onder meer inligting oor die span se opkikkergebruik weerhou het.

Lance het die fietsrywêreld op sy kop gekeer toe hy daarvan aangekla is dat hy opkikkers gebruik het terwyl hy van 1996 tot 2004 vir die Amerikaanse posdiensspan gejaag het.

Floyd Landis, sy toentertydse spanmaat, het eerste in 2010 ’n saak oor die opkikkerskandaal teen hom aanhangig gemaak en in 2013 het die Amerikaanse regering saam met Floyd die saak verder gevoer.

In Augustus 2012 is Lance van al sewe sy Tour de France-titels gestroop.

Ná volgehoue ontkenning dat hy enigsins opkikkers gebruik het, het Lance eindelik in 2013 erken hy het inderdaad geen van sewe 7 Tour-titels sonder verbode middels gewen nie.

Hy het die opspraakwekkende bekentenis teenoor niemand anders nie as kletskoningin Oprah Winfrey gemaak.

Floyd was self nie onskuldig nie. Hy het ook sy Tour de France-titel in 2006 ingeboet weens die gebruik van verbode middels. Maar omdat hy die een was wat die spreekwoordelike fluitjie geblaas het, kan hy volgens ’n wet van 1863 enigiets van 15 tot 25 persent van die skadevergoeding ontvang.

Hy wou deur middel van die hofgeding geld probeer herwin wat weens Lance se konkelry deur hul borge onttrek is.

“Lance Armstrong en sy fietsryspan het meer as R193 miljoen van die Amerikaanse posdiens ontvang ingevolge hul kontraktuele verpligting rondom billike deelname en om die regulasies te gehoorsaam – insluitend dié oor opkikkers,” het die Amerikaanse staatsaanklaer van die Columbia-distrik, Ronald C. Machen jr., destyds gesê.

Hy het die regsaak voorts bestempel as ’n poging om miljoene der miljoene dollars te herwin wat weens verbreekte beloftes verlore gegaan het. Na raming sou die posdiens danksy hul destydse borgskap meer as R645 miljoen se voordeel uit die ooreenkoms trek. Tydens ’n onderhoud met die BBC in 2015 het Lance nog ’n skokonthulling gemaak: “Ek sal waarskynlik weer kul as ek teruggeneem word na 1995.”

Lance Armstrong in ’n neutedop

? Lance Edward Gunderson is op 8 September 1971 in Plano noord van Dallas gebore.

? Hy is genoem na Lance Rentzel van die Amerikaanse Dallas Cowboys-voetbalspan.

? Sy ouers skei toe Lance twee jaar oud is. Sy ma, Linda, trou met Terry Keith Armstrong. Hy neem Lance in dieselfde jaar aan.

? Op 16-jarige ouderdom maak Lance as driekampatleet naam.

? In 1992 sluit hy die by die Motorola-span aan as ’n beroepsfietsryer.

? In 1996 word testikulêre kanker by hom gediagnoseer en begin hy met die Lance Armstrong-stigting. Die naam verander in 2003 na Livestrong Foundation. Lance bedank uit die stigting nadat hy skuldig bevind is en erken het hy het verbode middele gebruik.

? In 2000 publiseer hy sy outobiografie getiteld It’s Not About The Bike.

Bronne: bbc.com, businesslive.co.za, livestrong.org, theguardian.com