“Geknelde land. ’n Geharde joernalis kan huil by die aanskoue daarvan. Niks wat jy in jare van beriggewing ervaar het, kan naastenby vergelyk met die rou, hartseer verwoesting wat om jou strek en die verslaentheid van die groepie mense by wie jy staan nie. Jóú mense.”

Só het Huisgenoot se joernaliste Johan Coetzee en G. Olwagen die grootste natuurramp beskryf wat Suid-Afrika nog getref het. Dit was die Laingsburg-vloed wat op 25 Januarie 1981 feitlik ’n hele dorp in ’n malende bruin massa van vernietiging meegesleur het.

laingsburg

Vandag, 36 jaar later, word daar nog onthou van die Swart Sondag toe lewens onherroeplik verander is; toe onwaarskynlike helde lewens gered en ander se geliefdes vir ewig verdwyn het. En die wonderwerk van sommige wat weer opgedaag het lank nadat mense geglo het hulle is ook dood . . .

Die watermassa het ’n genadelose gelykmaker geword. Oud, jonk, ryk, arm, bo-dorp, onderdorp – niemand het dit vrygespring nie.

Die tehuis vir bejaardes is oorstroom en van die inwoners is tot op die dak gehelp. Die groepie bejaardes het wonderbaarlik aan die dood ontkom.

screen-shot-2017-01-25-at-15-24-01

Daar word vertel van ds. Malan Jacobs, wat saam met ’n handjievol van die oues van dae in gebed gekniel het. Hy het nie oorleef nie.

“Hy was baie lief vir sy mense,” het sy weduwee, Klara (72), in 2011, die 30ste herdenkingsjaar van die vloed, aan Huisgenoot vertel.

screen-shot-2017-01-25-at-15-23-00

“Daarom moes hy eenvoudig by die ouetehuis gaan help.” Klara self het met drie van haar vyf kinders op die pastoriedak gesit. Hulle het psalms en gesange gesing tot die water gesak het.

Paul en Brenda Ameels, asook Brenda se broer Lawrence, het die bejaardes te hulp gesnel.

[caption id="attachment_155664" align="aligncenter" width="500"]So het Brenda destyds die gesig van die vloedramp geword. Haar onuitspreekbare emosie en vreugde spreek toe sy met haar dogter herenig word. So het Brenda destyds die gesig van die vloedramp geword – met die onbeskryflike emosie en vreugde toe sy met haar dogter herenig word.[/caption]

“Die meubels in die sitkamer het alles hoek toe gedryf en ’n blinde tannie was daar vasgekeer,” het Brenda in 2011 vertel (Nou vier ons die lewe!, Huisgenoot, 3 Februarie 2011).

Ondanks al hul pogings om die water uit die sitkamer te hou, het die magtige vloedwater die ruite gebreek en die blinde tannie meegesleur.

“Haar ou bollatjie sal ek nooit vergeet nie,” het Brenda vertel.

Rondom Brenda-hulle het die mure begin intuimel en “die dakke het ontplof”. Hulle het in die water beland en die malende gedruis het hulle 20 km ver tot in die Floriskraaldam meegesleur. Hul enigste reddingsboeie – drywende bome.

Genadiglik is hulle weldra deur ’n reddingshelikopter opgepik en met hul beangste kinders herenig.

Wat het tot die vloed gelei? ’n Blokkasie by die spoorwegbrug het drie dae se reën laat opdam. Die druk het bly opbou en die brug het meegegee. Die Buffelsrivier was onkeerbaar en teen 14:00 was die Laingsburg se besigheidskern onder water.

screen-shot-2017-01-25-at-15-24-41

Maar selfs al sou die brug staande gebly het, bestaan daar die moontlikheid dat die vloed sou plaasvind. ’n Jaar vantevore het die Buffelsrivier ook oorstroom. Toe het die water gou bedaar. Maar op 25 Januarie 1981 het die Buffelsrivier kragte saamgesnoer met die Soutkloofriver, wat ook in vloed was . . .

In ’n ommesientjie was daar feitlik niks oor van Laingsburg nie: 104 mense (insluitend kinders) het verdrink. Net 32 lyke is gevind; die ander het spoorloos in die vloedwaters verdwyn.

Die ouetehuis, 185 huise, skoolkoshuise, vier rondawels en 23 sakepersele is geheel en al vernietig.

Vandag, 36 jaar later, is daar nog hier en daar fisiese littekens van die vloed te sien. Dié in die hart is egter veel dieper.

Maar die gees van die Karoo se mense het staande gebly. “Ons gaan opstaan uit die modder,” het die Laingsburgers destyds aan Huisgenoot gesê. En hulle het.

Bykomende bron: infolaingsburg.co.za