Die Do What You Want with my Body-sangeres sê sy was vroeër vanjaar van marijuana afhanklik, maar sal haar dwelmgebruik en wilde gedrag in toom hou, want sy wil nie soos Amy Winehouse jonk sterf nie.

Die oorlede Body and Soul-sangeres en sterre soos Kurt Cobain, Jimi Hendrix en Jim Morrison is almal op 27 dood, maar Gaga is vasbeslote dat sy haar 28ste verjaardag in Maart sal haal.

Sy het gesê: “Ek wil leef en ek wil hê my aanhangers moet leef. Ek wil nie hê hulle moet hulself martel soos wat ek gemaak het nie.

“Ek wil vir mense sê ek sal 27 verbysteek, en ek sal langer hou en julle ook.”

Die Applause-sangereres wil die siening ’n nekslag toedien dat musikante net onthou word as hulle jonk sterf.

Sy het verduidelik: “Ek wil die ongeskrewe reël verander dat ek jonk moet doodgaan sodat mense my sal onthou, dat ek moet dood wees om as ’n legende onthou te word. Dis ongesond.”

Gaga het na dwelms gegryp nadat sy in Februarie ’n pynlike heupbesering opgedoen het, waarna sy haar Born This Way Ball-wêreldtoer moes kortknip. Maar sy is vasbeslote om die onwettige middels te laat staan en op haar musiek te konsentreer.

Sy het aan ’n Amerikaanse radiostasie gesê: “Kan ek skitterend wees daarsonder? Ek weet ek kan en ek moet, want ek wil leef.”