Die Applause-sangeres het ’n wit hoëtegnologie-vliegtoestel onthul wat sy beskryf as “die eerste vlieënde rok ter wêreld”. Die kontrepsie het haar laat opstyg in ’n reusegebou in New York waar sy Sondag ’n bekendstellingspartytjie gehou het vir haar nuwe album, Artpop.

Die 27-jarige vermaakster van New York het gesê dit was “dalk ’n klein tree vir Volantis”, soos sy haar batteryaangedrewe metaalrok noem, maar “’n groot tree” vir Lady Gaga.

Sy het ook gesê haar eintlike mikpunt is om die eerste musiekvertoning uit die ruimte aan te bied. Lady Gaga wil vroeg in 2015 aan boord van die Virgin Galactic optree. Die Britse biljoenêr Richard Branson het dié  passassiersruimtevliegtuig bekendgestel om ruimtetoerisme aan te wakker.

Lady Gaga sal ’n liedjie op die ruimteskip sing tydens die Zero G Colony-hoëtegnologie-fees in Nieu-Mexiko, berig US Weekly.

Artpop, haar derde ateljee-album, word vandag wêreldwyd uitgereik. - SAPA

Klik op die skakel hieronder om Lady Gaga se rok te sien vlieg: