Lady Gaga is bekommerd dit sal haar musiek oorskadu as sy nie haar figuur behou nie.

Die sangeres, wat onlangs met ’n slanker figuur gespog het, beweer sy hou net haar figuur in stand omdat sy bang is bespiegeling oor haar gewig sal haar musiek oorskadu.

Gaga (27) het op die program KIIS-FM aan Ryan Seacrest (38) gesê: “Wel, jy weet, ek moes my figuur terugkry, maar ek was in alle eerlikheid nog nooit eintlik oor my gewig bekommerd nie. Dis ander mense wat omgee. Ek is soms bang as my figuur nie goed lyk nie, sal mense daaroor praat en nie oor my musiek nie.”

Gaga het voorheen al verklap sy ly sedert sy 15 was aan ’n eetsteuring. Nadat sy verlede jaar ’n bietjie meer as 10 kg aangesit het, het sy ’n foto van haarself in haar onderklere op haar webtuiste, littlemonsters.com, geplaas, met ’n onderskrif: “Bulimie en anoreksie sedert ek 15 was.”

Gaga het toe ook verklap haar pa, Joe Germanotta, se restaurant in New York moet die skuld kry vir haar voller figuur. Sy het gesê: “Ek is mal oor pasta en ek is ’n New Yorkse Italiaanse meisie. Dis waarom ek uit New York wegbly.

“My pa het ’n restaurant oopgemaak. Dis so wonderlik . . .  dis so flippen heerlik, maar ek moet sê, elke keer dat ek soontoe gaan, sit ek gewig aan. My pa wil hê ek moet by die restaurant eet, maar ek is soos: Ek moet iewers heen gaan waar ek groen sap kan drink.”