Lady Gaga het geleer om haarself te aanvaar soos sy is, al glo sy nie is “’n tipiese mooi meisie” nie.

“Ek is nie op die konvensionele manier mooi nie. As daar die een of ander wiskundige vergelyking vir skoonheid was, dink ek nie ek sou die algoritme wees nie. Ek was nog altyd oukei daarmee,” sê sy in die Desember-uitgawe van die Amerikaanse tydskrif Glamour.

“Ek is nie ’n supermodel nie. Dis nie wat ek doen nie. Ek maak musiek. Ek wil hê my aanhangers moet voel soos ek voel, hulle moet weet dit wat hulle kan bied, is belangriker as wat aan die buitekant aangaan.”

Die 27-jarige sangeres – wat dikwels skrapse uitrustings dra – glo sy wys nou meer lyf omdat sy die druk wat met roem gepaardgaan begin ignoreer het. “Ek het selfvertroue. Ek het ’n punt bereik waar ek dinge oor myself aanvaar het eerder as om onder druk te voel om my aan mense te verduidelik. Dis hoe ek nog altyd probeer optree het. Dit het nie verander toe ek ’n ster geword het nie.”

Sy sukkel egter sedert 15-jarige ouderdom met eetsteurings en erken dat sy sommige dae botsende sienings oor haar lyf het.