Die 27-jarige ster wou die liedjie Princess Die insluit op haar derde album ARTPOP, wat Maandag uitgereik word, maar bekommerde platebase by haar platemaatskappy, Streamline, en die moedermaatskappy, Interscope, het haar gevra om die liedjie te verwyder omdat hulle vrees dat dit dalk Diana se aanhangers kan ontstel.

“Lady Gaga was passievol oor prinses Diana, en hoewel sy erken het dis nie haar beste werk nie, wou sy dit op die album insluit,” het ’n bron aan die Daily Mirror vertel. “Maar ná Britse aanhangers se ongunstige reaksie toe sy dit verlede jaar by optredes gesing het, het die platebase ingegryp. Hulle het haar oorreed om dit van die album te verwyder om die vrede te bewaar. Die emosies loop nog hoog oor prinses Diana. Haar dood bly ’n gevoelige onderwerp.”

Lady Gaga het die liedjie, wat in 2011 geskryf is, verlede jaar op ’n vertoning in Twickenham, Londen, gesing en aan ’n ietwat skeptiese gehoor gesê dis hoe sy hulde bring aan die geliefde prinses. Die ma van prins William en Harry het in 1997 tragies in ’n motorongeluk in Parys gesterf.

“Die mense se prinses was van kleins af die belangrikste mens in my en my ma se lewe,” het sy destyds gesê. “Ek voorspel dit gaan omstredenheid veroorsaak, maar ek gee nie om nie.”

Sy het die weglating probeer afmaak en vir aanhangers gesê die liedjie “is nie so goed soos die ander liedjies” wat vir haar derde album geskryf is nie en dis hoekom sy dit weglaat.